André de Beer André de Beer

Woensdag 22 Augustus 2012

VROEGOGGEND ONDERONSIE MET ’N BAADJIE

Vanoggend met die afgaan van my selfoon se wekker, rol ek in die donker uit die bed en begin aantrek. Die donker pla my glad nie want ek maak in elk geval nog nie my oge so vroeg in die ooggend oop nie. Omdat ek die vorige aand al my klere reg sit, elke kledingstuk op sy spesiale plektjie, kan ek toe oë raakvat en aantrek en eers later wakker word. Dit werk gewoonlik vir my nogal goed!

Vanoggend, egter het ek so effe van ’n spoedbobbel geslaan. Dit was terwyl ek my Jeep “body warmer” (lyfverwarmer? – torsoverhitter? – borskasjas?) probeer aantrek dat dinge nie meer so lekker wou saamwerk nie. Die Jeep baadjie is een van die nuwerwetse goete van ’n onbekende, stywe materiaal gemaak. As jy hom so by die nerwe van sy nek vat en hom so ophou, dan staat hy daar – of hang daar – kompleet asof daar ’n torso in hom is. So ‘n moulose, bakarm torso met ’n gesonde maagronding. (Dit is darem XXX -large. Ek hou nie van ’n kledingstuk wat met my lyf meeding om dieselfde spasie nie, daarom koop ek my klere lekker groot, sodat dit los om my se pikante lyfie kan hang.)

In elk geval, die baadjie met sy stywe materiaal kan maar baie hardkoppig wees met ’n wil van sy eie. Ek het die ding nog net ’n paar keer aangetrek en hy is nog nie mooi opgelei oor hoe om hom te gedra net na 5 in die oggend in die donkerte nie. Hy maak lekker warm en is gemaklik om te dra wanneer ek eers my lyf aan sy binnekant het. Goeie kwaliteit rits voor wat met ‘n sagte sisgeluidjie op en af gly sonder om te hik of te stotter. Baie sakke vir my tissues, kougom, kleingeld, sleutels, selfoon, penne, spaar sakdoek ens. ’n Lekker baadjie wanneer ek hom eers aan het.

Vanoggend had die baadjie egter sy eie gedagtes gehad en wou vir my vertel hoe ek hom moet aantrek. Had my linker arm suksesvol deur die moulose mousgat gesit en oor my linkerskouer gehang. Die regterarm se aantrek wou nie so glad verloop nie. Die baadjie bly vir my ’n ander opening aanbied om my regterarm in te sit. Pleks hang hy net rustig daar en wag dat ek my regterarm in die mousgat insteek, maar nee, hy weet van beter. Bied elke keer ’n ander opening vir my aan om my regteram in te steek. Eers die nekopening. Nadat ek my losgeknoop het van die strik, bied hy weer die binnesak aan en ek skeur amper die sak af soos ek my arm daar probeer deurdruk. Toe weer ’n ander sak.

Uiteindelik was ek verplig om my een oog oop te maak om te loer en probeer sien wat de joos met die ding aangaat!

Met die dat ek so met die een oog loer, vang die oop oog die tyd op die radio/horlosie langs die bed. Iets lyk nie baie mooi reg nie. Sit my bril op en kyk weer .... en kyk weer, .... staat nader met baadjie net aan my linkerarm en kyk weer. Dis dan nog ’n hele halfuur voor my normale opstaantyd!

Gryp die selfoon om die waarheid uit hom te wurg en merk op dat dit was nie die wekker wat afgegaan het op die selfoon nie, maar iemand had vir my ’n sms gestuur! Wie de joos stuur dié tyd van die oggend vir ’n mens ’n sms?

Kan jy dit glo? Dis Nedbank wat een of ander wonderlike promosie aanbied. Ek bank nie eers by Nedbank nie!! As ek op daardie oomblik die verantwoordelike persoon in die hande kon kry sou ek en my baadjie hom saam gewurg het dat sy oge uitpeul!

Had maar die baadjie en al my ander klere uitgetrek en teruggeklim in die bed. Was binne oomblikke weer vas aan die slaap.

Met die tweede opstaanslag enkele minute later, had die baadjjie moed opgegee en hom aan my wil onderwerp, knorrig en met ’n kameelbektjie, maar darem!

Bo