André de Beer André de Beer

25 September 2011

Hi aan Alger van julle,

Ek wil julle darem net vertel van die hoogte van punt van my week. Dit was heeltemal ’n normale sort van ’n week – paar keer in die hof met ’n wye verskeidienheid van sake soos , aanranding, verkragting, bedrog ens. Niks nuuts nie, maar net nog meer van dieselfde. Verlede week laas ’n moord gehad om te doen, die saak is nou al vir 3 dae verhoor en sleep nog steeds voort. Maar dit is rêrig niks besonders nie.

Wat rêrig my week gemaak het, was die hekkie by die agteringang van my kantoor. Daar waar ons die karre stilhou. Dit is ’n gewone ou draadhekkie van die soort wat mens by die koöperasie koop. Ek moes hom op ’n stadium bietjie hoër maak omdat ou Quinie – toe sy nog sommer baie jonger was, oor hom gespring het en in die straat gaan ronddrentel het.

Die hekkie maak toe met ’n ogie aan ’n kort stukkie ketting wat oor ’n haak aan die hekpaal haak. Eendag, nie so lank gelede nie, dra ek ’n klompie goed aan van die kar af na die kantoor toe. Die hekkie staan so effens oop en is nie ingehak nie. Omdat my hande vol is, skop ek die hekkie met ’n voet, met die doel om dit na die anderkant toe oop te skop sodat ek kan deur gaan. Mens kan nie die hekkie met jou elmboog oop druk nie, daar is te veel skerp drade aan wat jou klere hak. Het al menige trui aan hom gehak.

Ewentwil, ek gee die hekkie ’n lekker flink stoot met my voet en stap deur - binne in die hek vas! Ek steier agteruit en gelukkig half val en half druk ek teen Karen se kar se modderskerm. As haar kar nie daar was nie het ek plat op my jis in die stof gaat sit. Ek was oorkom met erg vernederende gevoel – sit, steun op die rooi kar se modderskerm met my arms vol swaar goete en rol my oge so onder my wenkbroue rond om te sien of iemand hierdie stukkie drama opgelet het. Gefnuik deur ’n ou koöperasie draad hekkie.! Heeltemal onkant gevang. Gelukkig lyk dit nie asof enigiemand die tackle deur die hekkie op my persoon gesien het nie. My verleentheid daal met so ’n paar grade en om als net in balans te hou, styg my ergerlikheid teenoor die stuk draadhek, ooreenstemmend.

Ek meen te sê van wanneer af loop mens in ’n oop hekkie vas? Oplaas bekyk ek hierdie hekkie wat my soos ’n bloubul stut, heel ongeskik en onnodig sonder die bal, met die skouer geloop het lat ek op die kar se modderskerm gaat sit. Die hekkie se ogie is netjies aan die hak ingehak!!

Hoe kan dit wees. Die hek was oop na my kant toe en baie beslis nie ingehak nie. Ek het hom al baie in die verlede met die voet oopgestoot na die anderkant toe en so iets het nog nooit gebeur nie. Miskien het ek hom die keer bietjie vinniger met die voet gestoot as gewoontlik, maar nog steeds, hy was beslis nie ingehak gewees nie. Baie ergerlik plak ek my hoop leers op die kar neer, hou hulle met een hand vas dat hulle nie moet afgly nie en rek en strek met die ander arm om die ketting los te haak. Nou nie ’n baie elegante beweging nie, staat vooroor gebuk asof ek in die skrum wil sak. Net voor die skeidregter skree “engage” kry ek die hekkie los en met my strekkende vingerpunte stoot ek hom oop na die ander kant toe. Gryp net betyds die hoop leers voor hulle van die kar afgly en stap ewe waardig, kop omhoog deur die simpel hekkie terwyl ek saggies dankie sê dat daar niemand was om my te sien nie. Al agtergekom hoe kan jou personeel, sonder om ’n spier te trek, vir jou kan sit en giggel as jy alweer jou voet in ’n plek ingedruk het waar hy nie hoort nie? Enigiets is mos snaakser as wat dit behoort te wees wanneer dit die baas oorkom!

Later die middag, het ek eers versigtig rondgekyk of niemand my gewaar nie en toe met die hekkie ge-eksperimenteer. Gryp hom stewig vas, na die ketting los gehak is. Stoot hom stadig oop na die buitekant toe en ruk hom met ’n skielike beweging nader. Ek let op dat die skielike beweging die kettinkie deur die lug laat swaai en teen die hekpaal stamp net ongeveer daar waar die haak sit. As jy lank genoeg die hekkie staat en heen en weer swaai, dan op een of ander stadium swaai hy teen net die regte spoed sodat die hakie vanself die ogie vang en die hekkie inhaak!

Dit is nou interessant! Van toe af het ek elke keer as ek deur die hekkie ingaan of uitgaan – wanneer daar nie ’n juigende skare is om my dop te hou nie, die hekkie soos ’n obsessiewe kompulsiewe laaitie staat en heen weer swaai tot hy eindelik inhaak. Met tyd het ek agtergekom dit werk net as jy die hekkie van die buitekant af na binne swaai. Nie andersom nie. Die beste wat ek nog kon doen, is om binne drie swaaie te laat inhaak.

Dit vat fyn tydsberekening en ’n lekker, los soepel gewrig om dit reg te kry. Jy moet hom teen net die regte spoed en (baie belangrik – eintlik die belangrikste factor) teen die regte versnelling swaai. Lekker gladde beweging, niks se geruk of gepluk nie!

Die eerste paar swaaie, stamp teen die hak – wat nie baie styf teen die paal vas is nie – sodat hy tot net in die regte possissie beweeg. En dan die finale, perfekte swaai, sodat die kettinkie parallel met die grond uitswaai en die apex van sy swaai bereik net wanneer hy teen die haak aan die paal kom. Netjies glip die ogie oor die haak en siedaar!

Aan die begin het dit my baie swaaie gekos om dit eindelik reg te kry. Met oefening het ek my prestasie heelvat verbeter. Soos Gary Player, moet jou voete net mooi reg gepossisioneer wees. Jou swaai moet glad en doelgerig wees. En baie belangrik moet jy jou oog op die hakie hou. Die opvolg is ook uiters belangrik. Jy moet deurswaai en nie te gou die swaai beweging stop nie, anders tref die ketting die paal te hoog bokant die ogie. Fyn koördinasie!

Ek kan my voorstel hoe moet dit vir ’n buitestander lyk, die ouerige (statige?) man, wat stewig voor die hekkie posisie inneem, die hek aan die heel boonste dwarslat vasvat en met groot konsentrasie die hekkie heen en weer swaai! Sover nog nie ’n besoek van die Distriksgeneesheer of die maatskaplike werksters gehad nie – so ek is nog ok!

Vrydag, met die terugkom van die hof, het ek met die een perfekte swaai die hekkie met die heel eerste swaai netjies laat inhak! Die hoogte punt van my week! Ek het nie die geluk getart en dit weer probeer dupliseer nie, maar net die triomf aanvaar en met ’n vaste tred aangestap kantoor toe met ’n glimlag in my hart!

Groetnisse en ’n lekker week wat voorlê vir julle!

André

So lyk die hekkie:

Andre se hekkie

Bo