André de Beer André de Beer

16 Maart 2020

Gebaseer op ’n ware verhaal!

Nou die dag, soos meeste dae wanner dit nie reën of bliks en donder nie, gaan stap ek met die twee honde in die veld. Omdat daar onbedagsame mense op die vliegveld self rondloop met hulle honde, moes ek noodgedwonge met die honde af stap, teen die bultjie af weg van die vliegveld af. Daar is die bosse baie digter, veral na die bietjie reën wat ons gehad het. Ek maak die honde se leibande los en laat hulle op hulle se sigsellers in die veld rondvroetel. Ghandi draf tussen die bosse deur, sien net sy swart stert wat oor sy rug krul, so hier en daar uitsteek. Snuffel hier en ruik daar. Pesto, die klein rakker, kan nie homself besig hou nie en staan en wag dat ek ’n klip in die veld gooi dat hy dit kan jaag. Probeer om die klip so te gooi dat dit oor die grond rol sodat hy dit verder kan jaag. Hy is soos ’n blits agter die klip aan, tel dit op en kom staan vol afwagting met die klip in sy bek en wag dat ek die volgende ene moet gooi. Skielik hoor ek stemme laer af tussen die bosse. Dog eers ek hoor verkeerd, maar ek sien Pesto draai sy kop skuins soos hy ook luister. Uit die bosse kom ’n paar beeste rustig aangedrentel. Nie 50 meter van ons af nie. So stuk of ses koeie met ’n groterige kalf by hulle en agter hulle loop drie mans met blou oorpakke aan en laphoedjies op die kop. Ligte latjies in die hand, loop hulle land en sand en gesels. Die koeie loop in ’n ry met die grootste een voor, duidelik die leier van die troppie met die grootste horings.

Ghandi kom staan hier by my en bekyk die spul so. Die honde se kennis en ervaring van beeste is nou nie juis so waffers nie. Gewoonlik blaf hulle net deur die hek vir die beeste wat in ons straat afwei en die peule onder die Johannes Broodboom op die sypaadjie kom vreet. Pesto vlieg met ’n vaart weg, al blaffende en storm op die voorste koei af. Hy is omtrent so hoog soos haar knie, maar dit sit hom nie af nie. Hy is hier al onder haar neus in. Spring in en uit. Mik om haar aan die neus te hap. Die koei steur haar net mooi niks aan hom nie. Sy stap net rustig aan. Erg gefrustreerd deur die gebrek aan reaksie op sy verwoede aanval, hol Pesto na die laaste koei in die ry en probeer haar aan die hakskene byt. Die koei gee net so ’n elegante trip trappie met die agterpote en stap verder rustig aan. Ek gil op Pesto en swaai my arms rond. Ghandi staat hier langs my. Hy kyk vir Pesto by die koeie en dan kyk hy met ’n frons na my wat so tekere gaan. Verder steur niemand hul aan my nie. Die blou oorpakke gee my ’n vriendelike wuif van die hand en groet. Ek hou ’n oomblik op met gil en groet terug met ’n stem wat al hees geskree is.

Ek hervat geesdriftig my geskreeu op Pesto. Ek sien al in my geestes oog hoe skop daai koei agterop en skop vir Pesto onder die kinnebak dat hy soos ’n vrot vel deur die lug trek.

Nou is Pesto eers kwaad. Die koeie minag hom mos! Hy storm op die volgende ene in die ry af en spring teen haar flank op. Spring met sy voorpote teen haar sy en probeer haar hap. Gelukkig is sy bek te klein om vasvat op haar gladde vel te kry. Een van die blou oorpakke skreeu “Voertsek!”. ’n Ander ene skreeu “Gaan huis toe!”. Ek neem aan hulle bedoel dit vir Pesto en nie vir my nie, so ek neem nie aanstoot nie.

Teen die tyd verdwyn die voorste koeie al oor die bultjie tussen die bosse deur op pad na die vliegveld toe. Pesto blaas gelukkig die aftog en kom sit ewe trots op homself hier langs my. Sy tong hang langs die kant van sy bek uit en hy hyg na sy asem. Lyk of hy oopbek sit en lag. Meeste opwinding wat hy in ’n lang tyd gehad het. Ek staan met my hande op my knieë en hyg net so hard na my asem. Die bleddie hond!

Ghandi kyk ons met ’n skewe kop aan. Hy verstaan duidelik nie baie mooi wat de joos met ons twee aangaan nie.

Ek wil Pesto se nek omdraai. Ek soek daar om my rond vir ’n lat om sy klein boudjies mee te wiks. Maar, gelukkig vir hom en dalk vir my, is daar niks handig in die omgewing nie. As ek hom nou slaat dan dink hy ek slaat hom omdat hy na my teruggekom het. Nou nou dink hy dalk ek is van mening dat hy nie ’n goed genoeg job gedoen het nie en storm weer agter die beeste aan!

Ek knip hul leibande aan en vat die pad terug kar toe. Ghandi stap ewe gedweë saam, maar Pesto is lus vir nog speel en kyk vol verwagting na my dat ek nog klippe vir hom moet gooi om te kan jaag.

Ek sleep hom agter my aan. Gaan boender hulle in die kar en ons ry huistoe.

Bo