André de Beer André de Beer

24 Julie 2011

Die Foto hierby is van onse "vicious" hond SANCTOR!

Sanctor Die dogters het hom kleintyd die naam gegee na aanleiding van ’n karakter in ’n fantasie verhaal. Ek dink die naam beteken in Afrikaans "ou Hapoor." Ek het nog nie met die dogters dit bespreek nie, ek vermoed hulle gaan nie met my saamstem nie.

Die dogters het aljimmers die wonderlikste name vir ons diere uitgedink, of uitgesoek uit hulle gunsteling boeke. Anriet se swart kat se naam is byvoorbeeld "Gobolino". Raai waar kom dit vandaan?

Ons ou matriarg, die swart hond se naam is "Quintaga". Die goeie, asemrowende Labrador se doopnaam is "Lemaya". Davina se grys kat, wat sy uit die stormdreine gered het, se naam is "Nikita". Davina se langhaar grys kat, baie verfynde en sensitiewe kat wat nie sommer maklik sosiaal verkeer nie, se naam is "Sayuri" - as ek reg onthou, na aanleiding van ’n eksotiese Japanese meisie, uit "The Memoirs of a Geisha".

Ek het nou nie altyd so mooi by die doopname gehou nie. Hulle het sommer "Quinie"; "Sankies"; en "Maya" geword. Phillip hulle se dogter het toe sy nog kleiner was, nie van ’n katjie gepraat nie, maar van ’n "kakie". Dit was vir my so oulik dat ek nou nog alle katte sommer net Kakie noem. Hulle reageer nogal heeltemal positief op die benaming.

Nog ’n ander baie innoverende skepping van Suria, was om ’n krokkedil ’n "horrokos" te noem. Ek dink dit gee die vreesaanjaende, verskriklikheid van daai bek vol tande wat onder die water vir jou le en wag, baie beter weer as die regte woord. "Horrokos!" Dit laat sommer so ’n rilling langs my ruggraat af gly!

Ek het nou bietjie afgedwaal. Ek wil eintlik vvertel van Sanctor die verskriklike.

Toe Sanctor gebore is - Quinie is sy ma. Pa onbekend. Kon hom nooit opspoor om onderhoud te eis nie - het ons ook ’n ander hond gehad by name van Dubbies. Ou Dubs was veronderstel om ’n opregte Bull Mastiff te gewees het, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. In elk geval, ou Dubbies se koppie het nie so lekker gevat nie. Alles was nie mooi vyf by haar nie. Terwyl Sanctor nog sommer ’n pap babatjie was, het Dubbies hom gegryp, uit die bloute uit en gekarnuffel. Sy het hom aan die gesig gebyt en ’n gat dwarsdeur sy wang tot binne in sy mond gebyt. Ons het hom noodgevalle toe gejaag en hy is in intensiewe sorg baie mooi gedokter. Hy is dieselfde aand nog ontslaan en ons het hom huistoe gebring.

Die arme ou baba hondjie was baie erg getraumatiseer. Hy wou net nie ophou huil nie en ons kon hom net eenvoudig nie getroos kry nie. Anriet het hom die nag saam met haar binne in haar bed laat slaap. Hy het heel nag deur maar nog gekerm en gekla. Ek dink die woeste brutaliteit van die aanval het hom baie meer seer gemaak en beskadig as die werklike fisiese wonde.

Ons het al die ander klein hondjies van die werpsel weggegee toe hulle groot genoeg was. Glad nie gesukkel om huise vir hulle te kry nie. Maar vir arme Sanctortjie het ons gehou. Hy het nooit rerig behoorlik herstel van die gesinsgeweld voorval nie. Selfs na die tyd het Dubbies nooit rerig ooghare vir Sanctor gehad nie. Weet nie hoekom sy so agressief teenoor hom was nie. Sy het hom maar telkens afgeknou. Een middag het ons by die huis gekom en die honde het almal saam ons by die hek gestaan en inwag. Ewe onverwag, sonder enige waarskuwing storm, Dubs vir Sanctor van agter af en begin hom byt. Sanctor was so verbaas dat hy nie eers probeer het om hom self te verdedig nie. Dit was sulke absolute onnatuurlike optrede van Dubs, glad nie honde protokol gevolg nie, dat Sanctor totaal onvoorberid was op die aanval. Ons het hulle uitmekaar gemaak en ek het vir Dubs ’n paar taai klappe gegee. Sy kon glad nie verstaan waaroor dit gaan nie!

Sanctor het nie ernstige beserings gehad nie. ’n Paar skrapies behalwe dat sy linkeroor ’n skeur in gehad het. Sy oor is nou vandag nog so gespleet. As mens mooi op die foto kyk kan jy dit sien. Die stille aanval, sonder waarskuwing deur Dubs, het Sanctor net nog verder getraumatiseer.

Dubs is nou nie meer nie. Sy het heelwat jare terug die tydige met die ewige verwissel. Maar die gevolg van haar uitgehakte koppetjie, is dat Sanctor ’n baie paranoise persoonlikheid het. Hy het niks en niemand vertrou nie. Was altyd bang en oor versigtig vir alles. Hy tree buitengewoon aggressief op teen kuiermense en vreemdelinge.

Hy het al ’n hele paar mense gebyt. Nie ernstig nie, behalwe vir Erika. Een dag na sy hier by Anriet kom kuier het, byt hy haar skielik aan haar been toe sy groet en net toe sy by die hek wil uitloop. Aan haar kuit gebyt dat die bloed so loop. Ons het Erika dokter toe geneem dat sy inspuitings ens kon kry. Ons het baie sleg gevoel. Sommige mense knyp hy net so liggies. Het eendag vir Ida, net toe sy ook loop aan haar boud geknyp. Sy dog dis ek wat haar boud knyp en vleig om, wou my net ’n opstopper gee oor die vermetelheid! Gelukkig was ek ver weg en toe merk sy op dit was Sanctor. Ons tuinjong, Oupa, wat al in sy sewentigs is maar nog heel aktief, hups, en sterk is, draai glad nie sy rug op Sanctor nie. Katriena wat ons wasgoed kom doen, is baie bang vir Sanctor. Sy weier om in die erf in te kom nie voor hy toegemaak is nie.

Wanneer enigeen van die ander honde op die grond le en slaap, klim mens maar bo-oor hulle om verby te kom. Nie met Sanctor nie! Hy het my ’n paar kere al baie amper laat val. Hy le dood rustig op die vloer. Roer glad nie en le oenskynlik met sy toe oe en slaap. Net wanneer jy jou een been oor hom tel om oor hom te loop, vlieg hy ewe verskrik hier tussen jou bene op en stamp jou sommer uit die pad uit om weg te kom. Dood benoud dat jy besig is om hom aan te val of dat jy op hom gaan trap! Mens moet net vinnig na iets gryp om nie te val nie.

Ek moet se dat ek dink Maya het hom heelwat verander. Sy het hom, na Dubbies, weer ’n meer normale (as mens Maya so iets kan noem) honde gedrag geleer. Hy en Maya speel elke aand net voor ete so bietjie stoei-stoei. Hulle jaag mekaar, dop mekaar om, kou aan die ore en grom verwoed. Net tot ek Maya se kosbak neersit. Dan vlieg sy weg kosbak toe. Hy is beslis nie meer heeltemal so paranois nie. Deesdae le hy stil dat jy oor hom klim wanneer hy in die pad le.

Sanctor blaf by die hek vir enigiets wat in die straat verby kom. Ons weet altyd wanneer die bure ry of weer terugkom. As daar iemand aan die voordeurklokkie kom lui, raak hy heel ontstig hy blaf, vloek en skel, spring teen die hek op en probeer hulle deur die hek bykom! Dis ’n oorverdowende lawaai en ’n verskriklike gesig om te aanskou. Hy het vir Maya nou ook al die gewoonte aangeleer. Ons kennisse het nou al geleer om nie sommer net in te stap nie. Kosie en Ida lui die klokkie en staan en wag tot een van ons daar is. Wanneer ons by is om hom so bietjie te kalmeer, dan kan hulle dit waag om in te kom.

Een vreemde gedrag wat hy oorgehou het, is dat hy rondhardloop en "aliens" soek. Nugter alleen weet wat hy soek, maar hy draf om die huis rond terwyl hy na iets in die lug soek. Ruk sy kop heen en weer soos hy soek. Staar na die telefoondraad, kyk of iets nie in ’n boomtop wegkruip nie. Hol weer verder, steek skielik vas en gluur na die geut van die dak op die hoek. Dit terwyl hy heeltyd sulke fyn tjankgeluidjies maak. Hy lyk angstig asof hy iets daarbo in die lug verloor het, of asof hy iets gewaar het wat hy nou nie meer kan sien nie. Draf rond op sulke stywe bene, met oortjies wat op en af wip en sy stert stok styf gekrul oor sy rug. Aanvanklik het ek hom gehelp soek om te sien wat dit is wat hom so omkrap. Kon nog nooit iets sien nie. Nou se ek maar hy is op soek na "aliens"! Hy geniet dit baie en raak al hoe meer entoesiasties wanneer ek hom vra waar is die "aliens" - soek hulle my hond!

Hy het in die verlede nie uit sy eie kom toenadering soek nie. Hy was altyd ’n eenkant hond en het nie veel aandag gekry nie. Maya kom eis aandag en karring aan jou tot jy vir haar aandag gee. Nou kom Sanctor so stilletjies hier langs jou sit, kop onderstebo en druk druk met sy neus teen jou been. Hy bly so kop ondersetbo sit terwyl jy sy kop vryf en ore krap.

Ek dink hy ly nog steeds, soos ’n Vietnam veteraan (of soos ons se, ’n ou wat bossies geraak het), aan post traumatiese stres.

Bo