MAYA SE OORLOG
Maya had nou die aand ’n hewige geveg aangeknoop met ’n droe blaar!
Die veldslag het bykans ’n uur geduur, buite voor die agterdeur in die donkerte. Net die lig van die kombuis wat deur die venster geskyn het, het die toneel so effe verlig. Dit was ’n verwoede geveg en geen genade is betoon nie – baie duidelik ’n stryd tot die dood! Maya het haar baie manhaftig gedra en sy had beslis nie ’n bank haar op haar kop (of rug of pens of pootjies nie).
Soos julle seker al almal teen die tyd weet, is Maya ons baie besonderse goue Labrador. Hoogs intelligent en te cute vir woorde – maar o wee! So bedrywig soos enige driejarige met ADH sindroom!
Ek was in die garage doenig toe ek die verskriklike lawaai hoor. Ek dog eers dit moet seker ’n slang wees wat haar so ontstel. Of dalk ’n likkewaan. Ons het al van te vore jare terug ’n likkewaan in die erf gehad wat die honde ook net so hewig ontstel het. Nogal ’n groterige ene, seker so ’n raps meer as ’n meter lank. Hy het met die honde se aanmoediging en ’n paar sweepslae in hulle rigting met sy stert, agter deur die draad verdwyn na die bure sonder enige lotgevalle.
Ek kom versigtig om die hoek loer net vir ingeval dit dalk ’n slang of een of ander dodelike ding is, dan kan Maya maar alleen die geveg voortsit, ek sal haar bo van die muur af ondersteun. Sanctor kom by die agterdeur uit om te kom kyk wat gaan aan. Hy gee Maya net so een verbaasde kyk, draai om en gaan terug in die huis in.
Ek probeer in die swak skemer lig kyk wat sy so mee baklei. Maya dans al om iets op die grond. Haar boude daar in die lug en haar kop en voorpote laag op die grond. Sy blaf en maak sulke kort stormlopies op die vyand af en hap hap daarna, maar nie te naby om self gehap te kan word nie. Ek merk die ding wat sy so vleok en slegse, is ’n donker hopie op die pavleisel. Omtrent so groot soos ’n vlermuis. Dog eers dit is ’n vlermuis maar nie seker nie nie.
Elke keer as sy so na die ding hap, dan spring die ding so effe in die lug asof dit vir die hap koes en dit maak Maya net al hoe opgewonder. Maya lyk vir my maar baie versigtig vir die ding en kom nie heeltemal te naby daaraan nie. Dans vorentoe en agtertoe en al in die rondte om die vyand.
Ek staan nader om mooi te kan sien wat le daar en terroriseer so vir Maya. Moet ook maar ligvoets wees want Maya het geen ontsag vir ander in haar gevegsgebied nie, sy trap op my tone en stamp my amper om met haar boude gedurende een van haar vlugvoetige karate spronge. Op lat ek nou uiteindelik naby genoeg is om te kan sien, merk ek op dit is ’n droege “Ivy” blaar wat haar so opdraend gee.
Elke keer as sy die ding bespring en so in sy gesig blaf, laat haar asem die blaar omdop of so effe roer en dit lyk oortuigend genoeg om haar te laat glo dit is ’n lewendige ding wat hier op haar terrein kom probeer oorvat! Ek gesels met Maya en probeer haar kalmeer sodat sy die ding meer rasioneel kan benader – maar sy wil niks weet nie. Sy stamp my behoorlik uit die pad om die ding die stryd aan te se. Ek buk vooroor om die blaar op te tel en haar te wys dit is nie heeltemal so skrikwekkend soos sy dink nie, maar sy raak omtrent histeries as ek my hand na die ding uitsteek. Sy druk my weg en neem stelling in tussen my en die blaar.
Ek het maar opgegee en op die trappie gaan sit om die spektakel waar te neem. Maya het onverpoosd die verwoede aanval voortgesit. Net so bietjie nou en dan ’n blaaskansie gevat en gou gaan water drink. Die wateremmer staan net so 3 meter weg van die vyand af, maar dit pla haar nie. Sonder om eers die gedrog oor haar skouer dop te hou, gaan drink sy water en gaan staan met haar twee voorpote in die wateremmer om so bietjie af te koel en dan hervat sy weer die volgende rondte. Intussen le die blaar geduldig vir haar en wag tot sy klaar haar breek geneem het en pak dan weer die volgende rondte aan.
Lyk my Maya is links, want sy gebruik net haar linkervoet om so nou en dan so ’n vinnige kap beweging na die blaar te maak. Naby genoeg dat die blaar van die wind beweeg, maar sy beweeg so vinnig weer weg dat die blaar nie kans kry om haar by te kom nie. Sy spring op die blaar af met haar bek laag op die grond sodat haar borskas omtrent aan die grond raak, met haar boude in die lug en haar stert stokstyf. Hare op haar rug en nek staan so ’n dik rif regop. Lippe opgekrul sodat die slagtande wys. Hap dat haar tande op mekaar klap! As dit nie so snaaks was nie, sou dit skrikwekkend gewees het!
Adrie kom later ook in die agterdeur staan om te sien waaroor gaan die lawaai. Sy het so ’n rukkie gestaan en kyk, haar kop geskud en teruggegaan na haar skoolboeke.
Na ’n lang en hewige stryd, het die vyand uiteindelik geswig voor die verbete aanval. Maya het die blaar uiteindelik raakgetrap en dit het opgebreek in klein stukkies. Maya het aanvaar die vyand is daarmee heen, sy het rustig gaan water gedrink, omgedraai en weggeloop sonder om dit weer ’n kyk te gee.
Wonder wat het in haar kop omgegaan? Was dit sommer maar net ’n speletjie of was sy werklik ernstig en het sy regtig geglo die blaar was so ’n groot bedreiging?