André de Beer André de Beer

Junie 2015

GHANDI - TERROR NIGER

Soos julle seker onthou, het ou Quenie ons al ’n paar jaar gelede verlaat. Dit was vir my ’n baie traumatiese ervaring die September toe Quenie sag heen gegaan het.

Haar seun Sanctor, die brindle reun is nou ook al omtrent ’n jaar gelede na beter weivelde. Toe ons besef dat Sanctor raak nou nader aan die einde, het Anriet ’n ander hondjie by die plaaslike DBV gekry. ’n Swart, Great Dane mengsel met ’n wit kol op die bors en ’n dimple op sy neus.

Omdat die hondjie uit die besit van twee mans van Indiese afkoms verwyder was, is hy Ghandi gedoop. Hy was verwaarloos en vol skete en kwale. Mos hom elke tweede week neem om gedokter te word. Boeta, ons veearts, sê dikwils is honde wat so verwaarloos was, swak van gestel en met lae immuniteit.

Die hondjie was verskrik en koes weg as mens net jou hand na hom uitsteek. Met baie aandag en liefde het Anriet hom later sy selfvertroue laat herwin en het hy ontpop in ’n regte ekstrovert. Tot so ’n mate dat dit geblyk het hy is beslis die verkeerde naam gegee. Moes eintlik klein Terror gedoop gewees het.

Ghandi Op die foto is hy en Maya in ’n toutrek met ’n speelding besig. Hier is hy seker so omtrent ’n jaar oud. Nog nie heeltemal volgrooid nie. Nou, nog 6 maande later, het hy gelukkig nie heeltemal Great Dane status bereik nie, anders sou hy dit vir ons almal nog moeiliker maak.
Hy is nou so groot dat hy met gemak sy kop op die tafel langs jou bord kos kan neersit.

Hy eet enigiets wat hy in die hande kan kry, soos gebruikte sneesies uit die asblik, penne en potlode van die tafel af. Met sy swak gestel, akkodeer al die goed wat hy vreet nie altyd so goed met hom nie maar, dit sit hom glad nie af nie.

Gisteraand is ek vroeg bed toe met die komplimente van beurtkrag. Het net lekker begin insluimer, voel ek iets hier op my kant van die bed. Draai my kop en maak een oog oop. Hier staan Ghandi met sy kop op die bed en kyk met weemoedige oë na my. Ek vryf hom bietjie oor die kop en vertel hom dit is slapenstyd, hy moet in sy mandjie gaan klim. Ek draai om en wikkel weer lekker in die komberse in. Ek hoor Ghandi stap in die gang af.

’n Rukkie later, net weer ingesluimer, word ek wakker van ’n wind in my gesig. Maak my oge oop en kyk vas in twee swart neusgate ’n paar sentimeter van my gesig af. Ghandi staat weer daar en blaas sy asem in my gesig laat my snorhare bewe. Bietjie ongewoon vir hom om my so in die bed te kom pla wanneer dit nog nie etenstyd is nie. Gee weer bietjie aandag aan hom en sê hy moet bed toe gaan. Hy draai om en loop weg. Ek kruip onder komberse in. Ek hoor daar in die kombuis, waar hulle slaaplekke is, gee Ghandi so ’n paar halfhartige plaffe. Steur my nie daaraan nie en dommel weer in.

In die kombuis gee Ghandi nog so twee blaffies. Steur my nie daaraan nie want dit is nie sy dringende "daar is iemand by die voordeur" blaf nie. Is ook nie sy “hy wat soek jy in ons erf” blaf nie.

’n Wyle later, hoor ek hier langs die bed “foooeeei” en die swaar dampe slaat my neus laat ek nie kan asem kry nie. Dis ’n goeie ene. Ryk, maar nie lekker soos koffiekapitaal nie. Dit hang in die lug en ruik soos net ’n behoorlike hond wind kan ruik. Nee, magtag! Wat te erg is, is darem te erg. Ek strompel uit die bed net om darem bietjie in die vars lug te kan kom. Hier lê Ghandi op die matjie langs my bed, ek klouter oor hom en gaan uit die kamer uit. Hy hol verby my in die gang af kombuis toe. Ek loop en gaan kyk wat de joos is dan nou aan die gang met die hond.

In die kombuis gekom, staan Ghandi voor die mandjie waarin Maya opgekrul lê en trippel voor haar rond. Hy trap - trap so na haar, maar Maya knyp net haar oge toe en sy lê! Maya lê in die groter een van die twee mandjies en alhoewel hulle nie regtig aanspraak maak op ’n spesifieke mandjie nie, het Ghandi vanaand besluit dat hy wil in die groter ene lê en Maya verseg om op te staan.

Ek haal ’n handjie vol katpille uit die katte se bak, met ’n groot genoeg lawaai dat Maya dit kan hoor. Ek loop agterdeur toe met die pille en Maya is onmiddellik by, want die katpille kan sy nie weerstaan nie. Ek gooi die pille by die agterdeur uit oor die plaveisel. Maya is sterswaaiend agterna en draf heen-en-weer in die donkerte en snuffel elke pilletjie uit.

Met laat ek omdraai, lê Ghandi binne die groter mandjie met ’n behaaglike sug.

Probleem opgelos!

Bibberend, met my kaal voete op die koue teëls haas ek bedtoe. Die res van die nag nie weer gepla nie.
***

Ghandi and Maya

Ghandi & Maya op pad terug na ons staptog in die veld


Bo