André de Beer André de Beer

Vrydagaand 3 September 2010

QUINTAGA

Dinsdag had ek ’n saak in Daniëlskuil om te gaan doen en nou ja, net daar het die moeilikheid toe begin. Omdat ek nie vooraf wis hoe lank ek in Daniëlskuil gaan besig wees en hoe laat ek sal terugkom nie, het ek vir ou Quinie by die huis gelos.

Quintaga



Quinie, of te wel Quintaga de Beer, is ons groot swart hond wat elke dag saam met my kantoor toe gaan. Sy is nou ons oudste hond en die matriarg hier by die huis. Sy word met groot deernis en respek behandel deur almal by die huis sowel as die kantoor.

Die ou heupe is nie meer so lekker nie, so ons loop baie stadig en sukkel om in en uit die kar te kom. Vroeger jare het ek en sy saam kantoor toe en terug geloop. Deesdae is die entjie vir haar egter te veel en nou ry ons elke dag kantoor toe en terug. Ek het dat ons kranige tuin tegnikus en algemene vakman vir my twee houttrappies maak van ou kratte. Een vir die kantoor en een vir die huis. Ek sit die 'steppies' soos dit bekend staan in die volksmond, vir Quinie voor die deur van die kar neer en dan klim sy eers op die steppies en dan op die agtersitplek van die kar. As ek nie betyds is met die 'steppies' nie, weier sy om in te klim en staan daar voor die oop kar deur en wag tot ek die steppies vir haar reg sit.

Ou Quinie werk net halfdag. Van soggens so sewe uur tot een uur die middag. Dan kom ons huistoe vir middagete en dan bly sy by die huis vir die middag. Ek moet dus altyd sorg dat ek betyds is om haar een uur weer te kan oplaai en saam huistoe te neem. Die geleenthede dat sy dubbel skof moes werk omdat ek in die hof vassit of elders besig is, eis sy dubbel pay en raak sommer opstandig. Sy soek nie hierdie rondgeboddery met die roetine nie.

Wanneer dit soggens tyd raak om kantoor toe te gaan, staan sy by die deur rond en wag dat ek moet klaarmaak dat ons kan gaan. Sy verkies om sommer vroeg al in die kar te gaan klim wanneer Adrie in haar kar skool toe ry en daar in die kar te lê en wag tot ek klaar my tande geborsel het en kan aan die gang kom. Sy hou niks daarvan dat ek haar by die huis los nie en sorg dat sy altyd reg is en vir my wag om te gaan.

Dinsdag had ek ’n saak in Daniëlskuil se hof, ’n dorpie so 50 kilometer van ons af. Ek wou nie die risiko loop dat ek dalk laat van Daniëlskuil af sou kom nie en daarom het ek besluit om die oggend vir ou Quinie by die huis te los. Dit help nie dat ek haar probeer vertel en verduidelik waaroor dit gaan nie, sy hou net niks daarvan dat ek haar by die huis los nie. Mens moet jou wickets ken en goed kan keer om haar by die huis te los anders druk sy by die hek by jou verby en gaan staan by die kar en wag om saam te gaan.

Dinsdagoggend het ek haar ’n streep getrek. Ek het gemaak asof ek op pad is na die agterdeur en sy het solank vooruit geloop op pad na die hek toe, toe glip ek suutjies by die voordeur uit en gaan by die voorste hek uit, gaan loop klim in die kar en ry vir haar weg! Sy kon nie haar oge glo nie! Sy het nog steeds by die hekkie gewag en daar ry ek!

Ek is toe Daniëlskuil toe en my saak daar is uitgestel en ek kon vroeër as verwag terugkom. Gevolglik was ek voor 1 uur by die kantoor en het gewone etenstyd huis toe gekom vir middagete. Gewoonlik storm al die honde hek toe om te kom groet wanneer ek onder die afdak stilhou. Die ander twee Sanctor en Maya was daar by die hek toe ek stilhou en het al stertswaaiend gegroet soos altyd. Quinie was nie by nie en ek het nogal gewonder waar is sy dan, maar het aanvaar sy is maar daar iewers en het dalk nie gehoor ek het aangekom nie. My nie veel daaraan gesteur nie.

Ek het gaan eet en my middagslapie in die kamer ingekry. 2 uur is ek terug kantoor toe sonder dat ek vir Quinie te siene gekry het. Die middag na werk by die huis aangekom, is dit weer net Sanctor en Maya wat my vreeslik entoesiasties by die hek kom groet. Ek raak bietjie bekommerd. Het ou Quinie dalk iets oorgekom dat ek haar alweer nie sien nie? Voel sy dalk nie lekker nie of is sy per ongeluk in die huis toegemaak?

Ek stap om die huis en roep na ou Quinners, maar daar is geen taal of tyding van haar nie. Gewoonlik wanner ek haar roep sal sy darem gou aangeskuifel kom, veral aangesien dit nou ook kosgee tyd is. Ek gee hulle altyd in die aand kos wanneer ek van die werk af kom. Ek stap deur die huis en soek na haar, al roepende. Soek die hele huis deur. Die ander twee dink dis nou iets nuuts die en hulle stap oral agter my aan baie nuuskierig om te sien wat ek nou gaan aanvang.

Uiteindelik kry ek haar! In Anriet se kamer lê sy agter die bed. Op haar sy met haar oge styf toe. Ek stap nader om te kyk of sy dan nou iets makeer of wat. Sy lig haar en draai haar lyf om sodat haar boude na my kant toe wys en gaan lê weer. Lyk nie of sy iets makeer nie. Ek vra vir Adrie en vir Anriet of hulle dalk gesien dat Quinie iets makeer, maar nee hulle sê sy het vir hulle heel normaal gelyk - geen probleem wat hulle kon sien nie.

Oh well, dan is sy seker maar olraait. Ek loop en gaan gee die ander twee honde kos en sit Quinie se kos ook daar neer op haar gewone plek, maar daar is geen teken van haar nie. Wat maar baie vreemde gedrag vir haar is! Sy het nog nooit ’n ete gemis nie!

Ek gaan maar aan met my gewone sake. Gaan haal die koerant uit die posbus en sit in die studeerkamer en lees die koerant. Na ete die aand sê Anriet vir my dat nadat ek in die studeerkamer gaan sit het, het Quinie uitgeloop en gaan eet. Maar ek het haar nie weer gesien nie.

Later die aand roep ek haar weer en soek haar, maar sy steur haar glad nie aan my nie. Sy lê weer in Anriet se kamer en kyk weg as ek daar inloer. Toe slaat dit my soos ’n nat vadoek - maar die hond is mos nou kwaad vir my en sy gee my die 'silent treatment'!

Die lyftaal lyk dan nou so baie bekend, netsoos wat my vroulief met my maak as ek iets gesondig het en nie weet wat nie! Dit maak my sonde altyd natuurlik soveel erger as ek nie self weet of kan agterkom wat ek gesondig het nie! Ek word ook nooit ingelig nie. Ek kan maar net baie duidelik uit die stil stuipe agterkom dat iets is nou ernstig verkeerd, maar ek weet nie wat nie. Tipies vrou, is Quinie besig om my met die stil stuipe te gooi! In die geval weet ek egter wat ek gesondig het. Ek het vanoggend vir haar weggery! Dis wat!

Ek vertel vir Adrie van my waarneming en toe sien sy dit ook. Die hond is kwaad vir my en wys dit in geen onseker terme nie! Adrie probeer vrede maak tussen ons en sy gaan roep vir Quinie. Sy kom as Adrie haar roep. Maar toe loop Adrie na waar ek in die studeerkamer sit en sy roep vir Quinie soontoe. Dit het baie roep, smeek en mooi praat van Adrie gevat om Quinie sover te kry dat sy uiteindelik studeerkamer toe kom. In die studeerkamer stap Quinie in, draai haar rug op my en gaan sit met haar rug na my toe. Ek rek vorentoe van my stoel af en probeer haar streel. Sy staan moeisaam op en beweeg so halwe tree vorentoe en gaan sit weer met haar rug na my toe. Sy gaan nie net normaal sit nie. Mens sien sommer aan haar hele houding dat sy ruk haar op en draai haar rug doelbewus op my! Haar hele houding sê: "Moenie aan my vat nie!"

Sy het so rukkie daar gesit en ek het met haar probeer praat en verduidelik hoekom ek haar die oggend daar gelos het, maar dit is baie duidelik sy hoor nie ’n woord wat ek sê nie. Sy kyk nie vir my nie, sy draai nie eers ’n oor in my rigting nie. Toe Adrie loop staan sy ook op en loop uit die studeerkamer uit.

Slapenstyd die aand, sit ek die honde uit soos gewoonlik dat hulle buite in hulle mandjies kan gaan slaap. Die ander twee is uit maar ou Quinie kom nie. Toe ek haar begin soek, toe lê sy al klaar buite in die garage in haar mandjie. Oge styf toe en oënskynlik vas aan die slaap. Julle ken mos daai een. Rug na jou toe en maak asof sy slaap al kan jy duidelik aan die 'crackling' statiese spanning in die lug aanvoel dat daar word glad nie geslaap nie! Op die puntjie van die bed sodat sy nie dalk per ongeluk aan jou raak nie en jy kan sien dat jy mag ook nie raak nie! Quinie se lyftaal is presies dieselfde. Kamstig vas aan die slaap maar met die blou vonke van spanning wat in die lug kraak en glinster!

Die volgende oggend toe ek kantoor toe gaan is Quinie nêrens te sien nie. Ek is maar taamlik bedruk kantoor toe. Etenstyd toe ek by die huis kom, is Quinie daar rond, maar sy ignoreer my nog heeltemal. Ten minste kruip sy darem nie meer iewers vir my weg nie!

Aand na werk kom die ander twee soos gewoonlik my groet by die hek. Quinie hou haar besig in die agtergrond met iets vreesliks interessants wat sy op die grond rondom die antrasietsakke uitsnuffel. Kyk glad nie in my rigting nie!

Ek gee die honde kos en Quinie is ook daar. Wanneer ek die ander twee se kosbakke op die grond neersit, moet jy vinnig jou hand uit die pad kry anders stamp hulle jou uit die pad op pad kosbak toe. Quinie staan so twee treë weg en wag dat ek die bak op die grond neersit. Sy draai opsetlik haar kop en kyk anderkant toe. Eers na ek die bak neergesit het en bietjie teruggestaan het, kom sy nader en begin besadig met sulke klein happies, fyntjies, nes ’n regte dame - aan haar kos eet. Ek het maar druipstert die huis ingeloop.

Daardie hele aand is sy maar daar in die huis rond, maar sy kyk nie een keer vir my nie en as ek nader kom, keer sy opsetlik haar rug op my.

Volgende oggend toe ek en Anriet wil kantoor toe gaan, hang Quinie daar rond. Naby genoeg om nader te kom en in die kar te kan klim as dit moet, maar nie naby genoeg om gretig te lyk nie. Onder aanmoediging van Anriet het sy met ’n groot aanstellerigheid van teësin, darem toegestem om ons te vergesel en sy het in die kar kom klim na ek die steppies vir haar reggesit het. By die kantoor is sy so entoesiasties deur die kantoormense gegroet en welkom geheet dat ek is seker sy was baie in haar skik met die ontvangs! Die dag by die kantoor was vir my maar taamlik bedrywig en ek het nie veel aandag aan Quinie by die kantoor kon gee nie. Sy het in die groot kantoor gelê op ’n plek waar almal oor haar moet klim om te kan verby kom. En op die manier het sy baie seker gemaak dat almal deeglik kennis geneem het dat sy weer terug is by die kantoor.

Ons is middagete huistoe en die ander twee honde het ’n groot gewag gemaak van Quinie se tuiskoms. Sy is van kop tot tone beruik en met swaaiende sterte begroet! Ek dink dit het haar ego ook baie gestreel. Daardie aand toe ek by die huis kom was dinge gelukkig darem weer amper normaal. Sy het nog nie oorgeloop van vriendelikheid nie, maar sy het darem kom groet saam met die ander alhoewel so bietjie meer terughoudend as gewoonlik. Van daar af het dit net beter gegaan.

Ek is baie seker dat sy tevrede is dat sy my ’n goeie les geleer het, dat ek haar nie weer so opsetlik sal kul en by die huis los nie. Volgende keer sal en alles vooraf mooi met haar bespreek en haar vertel waarheen ek gaan en hoekom sy nie daardie dag kan saamgaan kantoor nie. Niks van hierdie ge-agteraf goete meer nie!

Gelukkig lyk dit darem nie asof ek enige emosionele wonde van die ervaring oorgehou het nie. Die nagmerries is ook nou verby!

Bo