21 April 2009
EK, MAYA EN DIE VEEARTS No. 2
Vanaand na ek die honde kos gegee het, het Maya, soos sy dikwils doen, eers gaan swem na ete. In die swembad het sy so lekker met die chloorboy gespeel. ’n Chloorboy, vir die enkele wat nie ai fait is met die begrip nie, is daai wit ronde plastiese bottel met ’n blou kop wat in die water ronddryf en stink chloor wolkies en borreltjies, amper soos ’n klein seuntjie, in die water los. Maya lig haarself uit die water uit en dan spring sy op die boy en probeer hom onder die water hou. Tot groot vermaak, spring die ding dan iewers weer uit na hy haar pote ontglip het en dobber na die oppervlak. Sy kyk verwoes rond tot sy sien waar hy opdop en bespring hom dan weer. Dit stoei en dit spartel dat die water so spat!!
Vanaand egter, het sy sò lekker met hom gespeel, dat sy hom saamvat toe sy uit die water uitklim. Sy het hom so skeef aan die dunkant in haar bek beet gekry en draf toe met hom na die agterplaas. Daar het sy glo, so het Anriet waargeneem, ’n tyd lank met hom sokker gespeel en hom heen en weer voor die agterdeur oor die plaveisel gedribbel. ’n Hengse lawaai opgeskop tot haar groot vreugde!
Later het sy met die ding onder die wasgoedlyn gaan lê en die arme boy se dun puntjie afgekou. Dit het die laaste chloor wat nog in hom oor was in haar bek laat beland en sy het moontlik selfs daarvan ingesluk!!
Op die stadium dat ek op die ding afkom, het sy al in die gang voor die voordeur haar aandete opgegooi, op die sitkamermat opgegooi en in die studeerkamer reg langs my stoel opgegooi. Ek kom eers op die oorskiet af toe ek met my kaal voet voel hier is iets wat nie gewoonlik daar is nie, op die donker sitkamermat! Na ek skoongemaak het, soek ek die oortreder. Buite onder die trap sit ’n bedremmelde, nat hondjie op ’n bondeltjie en bewe dat haar ou lyfie so skud! Sy kwyl dat die stringe kwyl uit haar mond hang en op die grond drup, drup. Haar ore hang, haar oge hang, en tussen haar voorpote lê die balans van haar aandete. Sy rittel en beef so dat ek dog sy kry koud van die swemmery. Ek het haar met ’n handdoek toegegooi en sy tel nie eers haar kop op as die kwyl van haar bek afvee nie! Dis vreeslik om die lewenlustige, vriendelike hondjie so in ellende te sien sit!!! Ek dog sy is besig ons te verlaat, so erg lyk sy!!
Toe ek verder rondkyk kom ek af op die Chloorboy met sy onderpunt afgekou, net daar waar die koek chloor sit. Kan die hond so stupid wees om chloor in te sluk? Die goed stink en moet sekerlik horrible proe. Maar as ek so na haar kyk, lyk dit beslis asof dit is wat gebeur het.
Benoud bel ek die veearts en vertel hom wat ek vermoed. Hy was uit op ’n plaas en is in sy bakkie oppad terug dorp toe, ek kan hoor hor ry hy op die grondpad. Hy seg ek moet solank by die spreekkamer vir hom gaan wag hy sal seker oor 20 minute daar wees. Hy het nie gesê of ek vir Maya moet saamvat nie, maar ek het haar ok in die kar gelaai net vir ingeval hy nie op pad was net om my te kom troos nie. Miskien is als nie verlore nie. Hy sal seker vir Maya se maag uitpomp en haar op ’n drup sit. Dalk aan ’n hart/long masjien moet koppel om haar aan die gang te hou, sy begin juis so hygend asem haal!
Ek het ou lakens wat Adrie my gegee het oor die kar se sitplekke gegooi. Met die optelslag van Maya, is ek sopnat, klere en al. Of dit van swembadwater is of van kwyl weet ek nie. Laai haar in die kar en daar gaat ons. Eers lê/sit sy net daar en kwyl maar hoe verder ons ry hoe meer rusteloos raak sy. Sy probeer by die vensters uitklim en elke slag as sy haar kop swaai, vou sy ’n streep kwyl liefies om my nek!! Yugh!! Gelukkig net oor my ken en deur my baard, ek klem my mond styf toe net vir inkaais! Ek weet dit is nog ’n rukkie voor die arts hier sal wees, so ek ry stadig na sy spreekkamer sodat Maya nie haar balans op die sitplek verloor nie. Teen die tyd staan sy regop op die agtersitplek en druk haar neus teen die ruit. Die kwyl loop in strome teen die venster en die deur af en drup op die lakens. Sjoe, ekt nie geding daar is so baie vog in die maer lyfie nie!
By die spreekkamer stilgehou, hoor ek ’n geruis in die verte aankom. Maya draai om en kyk deur die agterruit om te sien wat lawaai so. Dit terwyl sy nog steeds kwyl asof iemand haar daarvoor betaal. Op die rugleuning wat ek nie toegegooi het nie. Die spreekkamer is in ’n grondstraat geleë – dieselfde een waar ek laas so skewe koppie gehol het dat die stof so staan agter Maya aan - met diep spoel slote oor die pad en selfs ’n stormwater afvoersloot met sement gebou. Ek ry altyd baie stadig daardeur want my groot kar se pens skuur as ek vinniger as looppas deur daai slote gaan. Die klein karretjie waarmee ek vanaand gery het skommel en skud deur die slote. Die geruis van agter raak al hoe harder en ek sien twee ligte in die spieël aankom. Net ligte omring deur ’n stofwolk. Boetie, maar daai bakkie ry!! Die veearts is ne verniet familie van die Maritze nie! Hy steur hom nie aan slote of stormwaterslote nie. Hy kom verby my dat die karretjie so skud in die turbolensie van die bakkie. Die bakkie se bakwerk gly gladweg oor die growwe pad. Die bak self staat doodstil en sweef net voerntoe soos ’n skip op stil water – maar die wiele en suspensie van die bakkie skud, dril wikkel en swaai oor daai slote – dit lyk asof die bakkie sy wiele so een vir een optel en links of regs van die gate neersit. Hy stap so wydsbeen oor die gate en slote Maya skiet slierte slym tot teen die windscreen vas soos sy haar kop omruk om die bakkie se verby gaan te volg.
Net verby ons swaai die bakkie dwars in die pad en gly skuins deur die hek by die erf in. Ek het al gesê, dink ek, dat die veearts was op sy dag ’n provinsiale hekkiesatleet op universiteit, ma lyk my hy kon maar ’n tydrenjaer ook gewees het!
Die stofwolke het nog nie eers begin afsak grond toe nie, toe kom die veearts met sy sak in die hand vooroor gebuk aangestryk spreekkamer toe. Hy maak die deur oop en sit ligte aan terwyl hy oor sy skouer skree: "Andrê, bring haar!". En ek bring! Met Maya in my arms – en sy het nog niks ligter as laas keer geword nie – teen die styl trappe af na die spreekkamerdeur toe. Maya ruk en bewe so, ek trap sommer twee trappe mis en struikel by die deur in. Reguit deur na die ondersoekkamer., sit ek haar op die vlekvrye staalondersoektafel neer. "Nee" seg Boeta die veearts, "draai haar om, sodat sy in die aflooppyp kan opgooi wanneer sy opgooi!". O. ok. Ek draai haar om. Sy ruk en skud en druk teen my aan soos sy wegrem van die kwaai ou met sy gryshare en blou oge diep in hul kaste. "Jis, maar sy kwyl nê" seg Boeta. Sy drup op daai blink tafel dat sy later in ’n dam water staan. Dit drup en stroom sonder ophou by haar bek uit. En ek is so beangs oor my ou hondjie dit nie gaan maak nie ek kry nie ’n woord uit nie.
Ewe rustig, rem Boeta haar bek oop, vryf sy vingers oor haar tandvleise, seker om te kyk of daar nog chloor sit. Ek weetie en ek vra ok nie. "Nou hoet dit gebeur?" vra hy terwyl hy ’n termometer en haar dinges opdruk, sy probeer nog toeknyp maar te laat! Ek vertel hom dat sy die chloorboy uit die swembad loop haal het en gekou het. "Ja, maar hoe dan anders. Sy is mos ’n Labrador!" sê hy. "Van jong Labradors en klein kindertjies kan jy enigiets verwag" meen hy terwyl hy die termometer uitpluk en bekyk. Hy gee haar twee inspuitings in die dik nekvelle. Antibiotika en kortisoon seg hy.
Toe vat hy so klien botteljie rem haar linkeroog oop en puff ’n bol witpoeier in die oog. Maya knyp die oog toe, maar sy skud en bewe enkwyl nog steeds so dat ek nie enige ander reaksie kan agterkom nie. "As sy nog enigiets in haar maag oor het, sal sy nou begin opgooi" sê hy. Die wit poeier maak hulle geweldig en vinnig naar. Die oogvliese absorbaar glo die middel baie vinnig. Nou staat ons vir Maya en kyk om op te gooi. En ons staat en kyk en ons staat en kyk. Hy gooi nog bietjie poeier in dieslefde oog en ons staan weer en kyk. Sy druk nog steeds teen my vas en ek staan met my arms om haar en hou haar teen my lyf was. My kop bewe op en af en heen en weer soos sy ruk en skud – of dit nou nog van gif of pure senuwees vir die dokter en sy termometer is weet ek nie. Sy lyk vir my nog maar presies dieselfde as van te vore. Kwyl nog net so erg. Die kwyl loop al by die tafel se aflooppyp uit. Ek het my staatmaker, my "WINNERS" sweetpaktop aan. Hy blink en glinster van die kwylstrepe. Boeta staat rustig terug en leun teen die tafel teen die naderkantse muur. Hy gesels oor die atletiekweek wat sy oudste dogter bygewoon het iewers in GP en oor die perde uithourit wat op Fauresmith gehou word. Hy gaan gewoonlik as een van die perdedokters op die uithouritte saam. En nog steeds gooi Maya nie op nie!
Maya rittel en beef nog steeds so, ek kan nie agterkom of sy naar is en opgooi bewegings begin maak of nie. Ek steur my nou nie vreeslik aan perde wat dae aaneen deur die veld ry van sonop tot sononder nie en klou net aan Maya vas. "Nee wat", seg Boeta "as daar nog enigiets in haar maag oor was, sou sy al opgegooi het". Hy vat ’n spuit vol water en spoel haar linkeroog uit om die poeier se werking te stop. Sy lyk vir my nog maar presies dieslefde as wat sy was toe ek daar ingestrompel het.
"Ek dink sy is ok. Ek glo nie sy het enige van die chloor ingekry nie. Sy is ok nie stupid nie, daai goed is so sleg sy sou dit nie ingesluk het nie"! Seg Boeta. "Vat haar maar huistoe en hou haar net dop. Lyk ook nie asof sy van die giftige dampe ingekry het nie. Haar asemhaling is ok. Die baie slym is goed, dit spoel die reste van die chloor uit haar sisteem uit." Met ander woorde ek het verniet gepanic? Goeie nuus, is dit?
Daar gaat ek met Maya in my arms teen die styl trappe uit terug kar toe. Die kar deur staat nog oop soos ek inderhaas met haar daar weg is. Teen die tyd dat ek haar op die agtersitplek neersit, kyk sy vol belangstelling na ’n hond oorkant die straat wat vir sy eie skaduwee staan en blaf. Sy kwyl nie meer nie en haar gebewe is ok op ’n ent. By die huis aangekom maak ek die deur en en die hek opp en sy klim self uit en hol voor my uit huistoe. Sy is voor my by die agterdeur in en gaan groet ewe polite die ander twee honde en vir Adrie en Anriet in die kombuis. Lyk asof sy net op ’n plesieruitstappie was! Sy het nog nooit iets makeer nie! "Eks ok"! vertel sy vir die ander nog voor ek ’n
woord kan uitkry. Ek steier daar in met my Winners top vol blink strepe en my broek vol natkolle asof ek siek was, en sy glimlag van oor tot oor! Lekker kar gery weet julle!
Ek draai om en gaan haal die nat lakens uit die kar uit. Mens kan die goed behoorlik uitdroog! Maak die kar se deur toe wat ek oop gelos het toe Maya uitspring en vir die hek hol.
Volgende oggend toe ek die kar se deur toevallig oopmaak, vloek Anriet se swart kat my behoorlik en klim met ’n gekla uit die kar uit. Hol reguit waterbak en kosbak toe. Sy het blykbaar in die kar geklim die rukkie toe ek die deur oopgelos het die vorige aand. Heelnag in die kar. Baie vies vir my!!