André de Beer André de Beer

Maandag 3 Augustus 2020

Ghandi het ’n infeksie in sy linkeragtervoet en noodgedwonge moes ek hom na ons veearts, Boeta van der Merwe, neem vandag. Soos gewoonlik wanneer ek ’n hond na Boeta moet neem, gebeur die interessantse dinge.

Ek het vir Ghandi sy harnas aangetrek, maar die leiketting aan die harnas het nie meer ’n behoorlike handvatsel aan nie, want Pesto het dit afgekou. So ek draai die punt van die ketting ’n slag om my hand om ’n beter greep te kan kry.

Ek het Ghandi in die kar ingelaai en ons is veearts toe. By Boeta se plek klim ons uit en Ghandi loop heel gewillig saam. Die ingang na die spreekkamer is teen ’n stel, styl trappies af. Die trappies gee my altyd moeilikheid.

Ons is teen die trappies af en Ghandi trippel die trappies af en sleep my saam. Ek moet net klou en vinnige treë gee teen die trappe af om op my voete te bly. Onder, voor die deur steek Ghandi vas toe hy besef waar ons nou eintlik is. Ek val amper bo-oor hom maar met ’n paar elegante passies, bly ek op my voete en sleep hom by die spreekkamer in. Gelukkig is die teëlvloer in die spreekkamer glad en Ghandi kry nie vastrapplek nie. Hy probeer kloue inslaan en ek sweet, maar ek hou en sleep hom tot in die middel van die vloer van die ontvangslokaal.

Boeta kom ondersoek hom sommer net daar op die vloer van die ontvangslokaal. Ek druk Ghandi se kop op die teëls vas en Boeta gryp sy agtervoet. Ghandi hou niks daarvan dat enigiemand aan sy voete vat nie. Hy ruk en pluk, maar ek hou en Boeta kyk. Ons kruip op ons knieë op die vloer rond agter die spartelende Ghandi aan. Boeta sê die voet voel sommer warm en hy kan sien daar is infeksie in.

Boeta staan op om ’n spuit te gaan haal en ek druk nog vir Ghandi teen die vloer vas. Hy wil nie meer daar wees nie, veral nie wanneer daar van spuite gepraat word nie. Boeta kom terug en sê sy voorraad van dit wat hy Ghandi wou spuit is op. Hy gee my antibiotika kapsules wat ek twee keer per dag vir hom moet ingee. Teen Vrydag behoort hy reg te wees. As hy nie is nie, moet ek hom terugbring.

Terwyl ek nou daar is, bestel ek sommer so van die vloer af waar ek nog Ghandi vaspen, ’n sak hondepille. Boeta laai die 40 kg sak op en gooi dit oor sy skouer.

Ek en Ghandi gaan vooruit en Boeta agterna met die sak hondepille. Weer teen die trappe uit op pad straat toe. Ghandi is te bly om weg te kom van die vreeslike plek waar hulle sommer so sonder om te vra na mens se voete kyk. Ghandi hol die trappe uit en ek stoom agterna om te probeer by bly. Boeta klim ligvoets die trappe uit agter my met die 40 kg sak op sy skouer. Boeta is seker so sewe jaar jonger as ek maar baie fiks en atleties.

Ghandi trek so hard aan die ketting in my hand dat ek hom nie langer kan hou nie. Aan die bopunt van die trappe los ek die ketting om te keer dat ek nie in die haas teen die trappe op, oor my eie voete struikel nie. Sonder Ghandi wat my aan die ketting sleep, vorder ek vinnig die laaste paar trappies op. Ek moet Ghandi gaan vang voor hy dalk die straat inhol!

Ek gryp aan die handreling en pluk myself haastig die laaste twee trappies op. Net toe gaan Ghandi, hier reg voor my in die stofstraat dwars lê. Dit was totaal onverwags, maar tog kry ek dit reg om in volle vaart, bo-oor hom te trap met die een voet. Natuurlik vlie hy weer orent hier tussen my twee bene. My agterste voet haak aan hom vas en daar trek ek!

Met ’n duikslag en ’n rol beland ek in die stofstraat, plat op my rug reg agter die kar. Boeta kom aan, nog steeds met die sak op sy skouer: “André, André is jy olraait? “ Hy klink baie bekommerd. Baie verleë oor my onbeholpenheid en die bleddie hond se truuks, beur ek dadelik orent. Ek gryp Ghandi aan sy harnas en sleep hom kar toe. Met ’n gesukkel kry ek die agterdeur oop en Ghandi spring heel vrolik in die kar in. Boeta is hier al om my, nog steeds met die sak pille op sy skouer.

Verbouereerd, verseker hom ek makeer niks, sluit die bagasiebak van die kar oop en Boeta sit die sak pille binne neer. Boeta praat nog oor iets van op ons ouderdom moet ons nie meer val nie, maar nou wil ek net wegkom. Ek loer so onderlangs rond of enigiemand anders my mannewales gesien het. Gelukkig is daar nie ’n ander mens in sig nie.

Dit is nie die eerste keer dat ’n hond my so by Boeta se spreekkamer in die skande steek nie! Ai, die verleentheid.

Gelukkig geen beserings nie. Net ’n rooi gesig en vol stof.

Die ergste van alles is, dat tuis moet ek alleen daai 40 kg uit die bagasiebak uitstoei en huis toe dra.
Shani se antwoord:

’N Baie goeie beskrywing, ek kon my goed die petalje voorstel. Boeta is natuurlik reg op ons ouderdom moet ons nie meer val nie. In my oefeningklas is ’n goeie kwart van die les daaraan gewy om ons oumense nog ons balans te laat hou en op ons voete te hou.

Ons het weer ’n hond wat byvoorbaat gil en die mees vernederendste situasies veroorsaak sodat ander mense dink jy het jou hond aangerand.

In die tyd toe ons nog net in die oggend tussen 6 en 9 mag uitgegaan het om te oefen moes ek met die honde gaan stap. Gewoonlik stap Petr met hulle in die aand in die donker, laat genoeg dat daar nie meer ander honde en mense op straat is nie en ook nie motors nie sodat die honde los kan ronddraf. Maar toe is dit nou my taak om hulle op ’n leiband uit te neem en eintlik nie net een nie, maar twee want die honde is nie gewoond om saam te stap nie, jy moet eers die een neem en dan die ander een want die een, Savannah stop by elke bossie en besnuif elke blaartjie terwyl die ander een, Cody, vinnig vooruit draf en alreeds ’n halwe straatblok verder is. Cody is ook die giller.

En so een oggend terwyl ek met Cody ons oggendstap onderneem loop ons oor die meent hieronderkant die huis. Daar lê ’n hele aantal los takke rond en ek moet mooi trap om nie my voete te laat vashaak terwyl Cody my voortsleep nie. En natuurlik, by een van hierdie takke hak my voet toe nou wel en ek moet ook nes André, ’n paar elegante passies uitvoer wat ook ’n hop of twee insluit om op my voete te bly. Op die daad besluit Cody ek het hom ’n skop gegee en hy los ’n gil wat almal in die omtrek se ore laat tuit. Nouja, stel julle maar voor die vuil kyke wat ek gekry het van al die ander vroegoggend stappers en drawwers - ek het dan my hond so lelik en heel onnodiglik aangerand.

Daarna het ek en Cody maar ompad gekies om die meent, en nie weer oor die meent nie.

Bo