23 Julie 2018
HONDESTAP
Nou die dag terwyl ek en Anriet met die honde in die veld gaan stap, kom ons weer ’n ding oor.
Ons gaan stap mos elke middag in die veld net buite die dorp by die vliegveld. Wanner daar niemand anders ook daar rond drentel, of fiets ry op die oefen pad wat om die vliegveld oopgestoot is, of met hulle se vliegtuie op die aanloopbaan op en af rits nie, maak ons die honde los dat hulle in die veld kan rondsnuffel en hulle ding doen.
Meeste van die tyd, stap ek met Maya en Anriet laat Ghandi haar rondsleep. Mens moet maar heelwat geduld hê wanner jy met Maya aan haar leiband loop, want elke bossie en graspollietjie word besnuffel en ondersoek. Haar reuksin is besonders goed en sy kan ander diere se ontlasting (mooi woord né) op ’n paar treë vêr uitruik. Selfs al is dit onder die grond begrawe. Sy snuffel dit uit, grou dit oop en smul te heerlik daaraan. Haar pro-biotics. Ons probeer haar oortuig dat mens doen dit nie! Jy kan maar trek en rem aan haar leiband en haar vertel dit is sies en gagga, maar jy kry haar nie weg nie, nie voor sy ’n bekvol opgetel het nie.
Ewentwil, die betrokke dag, was Ghandi weer bietjie te opgewonde oor die stappery in die veld en ek het met hom geloop. Omdat Anriet soveel ligter as ek is, pluk hy haar te maklik rond en soms moet ek maar oorvat. Ek is darem so effe swaarder as sy en word nie so maklik van my voete af gepluk nie. Ons loop met hom met ’n wurgketting (choke chain) aan sy halsband. Hy steur hom net niks aan die wurgketting nie. Hy trek dat hy nie kan asemhaal nie, soos die ketting hom wurg. Maar hy trek en sleep jou al hygend rond.
Ons stap in ’n padjie af, Ghandi al hygend soos hy rem dat ek moet vinniger stap. Hy wil altyd vinniger loop as wat ek bereid is om oor die los klippe te struikel. Hier reg onder ons neuse, vlieg ’n Steenbok uit ’n bos op en huppel oor die bossies ’n paar treë weg. Ek skrik my buiten weste en hyg na my asem. Ghandi steek vas en bekyk die verskynsel. Maya loop kop onderste-bo en snuffel en merk niks.
Die Steenbok steek langs ’n groot bos vas en staat ons ewe kalmpies en beloer. Net so tien tree van ons af.
Ghandi laat sak sy kop en bestorm die verwaande bok. Hy pluk amper my arm uit lit uit en ek steier ’n paar tree vorentoe voor ek my hakke in die grond kan inslaat en klou vir al wat ek het. Ghandi grou met al vier pote dat die klippe so spat om weg te kom. Ek sweet, maar ek hou!
Die bok staat ongestoord en bekyk ons manewales so uit die hoogte uit.
Ek kan nie vir Ghandi los nie, want dan hardloop hy agter die bok aan deur die veld en waar kry ons hom dan weer. Met of sonder die bok.
Ghandi gaat lê amper op sy maag met voete weerskante uit, soos ’n padda. Hy grou, skop en trek dat ek sulke kort hink treetjies vorentoe gee om staande te bly. Ek wonder so vluggies by myself, hoe sterk is ’n mens se hand aan die res van jou arm vas. Kan hy dalkies my hand by die gewrig afpluk?
Die bok draai doodluiters om en huppel oor die veld weg. Glad nie haastig nie. Ghandi wil omtrent die stuipe kry oor die verwaande bok.
Na die bok buite sig is, kom Ghandi geleidelik tot bedaring. Ek wriemel die leiband van my hand los en laat val dit op die grond. Ghandi vloog weg en hol die veld in met die leiband wat tussen sy bene agter hom aansleep, al blaffend, vloekend en skellend op die bok.
(Ai, die tale wat daar gebesig is!).
Ek staat met my hanne op my se kniege en hyg na my asem. My bene bewe. Ek bekyk die rooi hale om my gewrig waar die leiband my gekou het.
Anriet roep vir Ghandi met ’n kwaai stem. Maya kyk verbaas op en wonder waaroor die bohaai nou gaan.
Na hy ’n wye draai deur die veld gehardloop het, kom Ghandi baie tevrede weer terug, vas oortuig daarvan dat hy die ou bokkie nou ’n ding of twee vertel het.