15 Januarie 2010
MAYA (aka - Lemaya de Beer)
Vanmiddag toe ek by die huis kom en onder die afdak stilhou, kom Maya my tegemoet gehardloop met ’n lang stok in haar bek. En as ek sê ’n lang stok, dan bedoel ek een wat oor die 2 meter lank is. Sy het die stok aan die dikpunt beet en kom ewe bokspringend aan met die dun punt wat op en af swiep soos sy hardloop.
Die swart katjie, Gabolino, kom ook aangedraf om te kom welkom tuis sê. Maya hardloop van agter verby die katjie wat baie vriendelik aankom en ooglopend baie bly is om my te sien. Met die verbygaan, streep Maya die katjie met die stok reg onder haar stert ’n hou wat haar agterpote sommer in die lug in gooi. Die arme kat gee ’n skrou en da gaat sy, sommer so windskeef na die agterdeur toe.
Maya kom glimlaggend en stertswaaiend aan gebokspring met die stok in haar bek, totaal onbewus (of sy steur haar net eenvoudig nie daaraan nie) dat sy nou net die arme kat ’n lekker hou oor die dun boudjies gestreep het.
Ek kom by die hek in en Maya kom koggel my met die stok. Dit is duidelik een van die stokke wat die tuinjong in ’n heiningtjie om die vyeboom gevleg het. Juis om die honde uit te hou, want hulle pluk die vyeblare af en eet dit. Sy moes die stok daar uitgeryg het. Sy doen dit om in te klim en nog die vyeblare te kan eet. Hoekom sal hulle nou soos normale honde gras eet wanneer hulle die vyeboom kan kaalstroop? Al drie die honde doen dit.
Terwyl ek op pad is agterdeur toe, huppel Maya al om my met die stok. Ek moet ’n paar keer flink trap om nie ’n hou oor die bene te kry nie. By die agterdeur, bons Maya by die trappe op en gaan staan op die boonste trap vir my en lag met die stok in haar bek. Sy staan met die stok so dat ek nie kan verbykom nie. Sy verplig my om iets omtrent haar en/of die stok te doen. Sy forseer my nou om aan haar speletjie deel te neem. Daai speletjie van: “Toe kom, gryp die stok! Kyk of jy kan!”. Sy lag oopbek vir my. Haar oë vonkel en lag en tart saam.
Ek is nie baie lus vir die speletjie nie. Ek kom nou net van die kantoor af met my sak en dagboek onder een arm vasgeklem. Eks moeg en sweterig. Nukkerig buk ek vorentoe en gryp na die stok. Ek kan hoor hoe chuckle Maya van pure lekkerkry, toe sy haar kop net effens draai dat ek die stok misgryp. Sy is besonders goed met hierdie soort speletjie. Mens kry nie sommer maklik iets by haar afgevat nie. Sy koes beter as Cassius Clay!
Ek buk weer vooroor, maak asof ek haar kop wil vryf en ewe slinks verander ek vinnig van koers en gryp na die stok. Maya koes en wiks my ’n harde hou reg oor die middel van my kop lat daar ’n rooi haal oor my bles lê. Nou is ek sommer dik te joos in! Mens kan selfs sê ek voel nou amper soos oorle Boetie gesê het de bl.... in!. Maya lag van oor tot en geniet haar gate uit!
De vieste in, tree ek weer nader, buk vorentoe en maak of ek vir die stok wil gryp - versigtig om nie weer ’n hou te kry nie - toe sy koes, gryp ek haar aan haar halsband. Met een ruk pluk ek daai laggende hondjie van die trappie af, hier verby my agter toe. Met die verbygaan slat sy my met die tak ’n hou op daardie plekkie waar ek nie toe sommer dadelik kon kyk hoe gaan dit met my nie.
Ek hoop die ander punt van die tak het haar ’n hou in die bek gegee wat haar tande laat ratel! Met daardie hoop wat my staande hou, haal ek baie, versigtig diep asem en rus met my een hand op die knie. Ek het nie eers geskree nie. Niks, nie eers ’n piepgeluidjie nie. Saggies in tale gespreek, maar net hier binne-in dat die kinders nie moet hoor nie! Tussendeur het ek ook nie eers my dagboek laat val nie. Klem die nog in ’n ystergreep onder my arm vas!
Met net ’n sagte steungeluidjie is ek voetjie vir voetjie by die trappe op, die huis in.
Maya het ’n bal wat Adrie vir haar gekoop het by Diskom of Crazy Store of Pep Stores of American Swiss of so iets. Dit was, toe sy dit gekoop het, ’n sokkerbal. So ’n swart en witte.
Maya het oor die tyd, die bal se blokkies een vir een afgetrek en uitgespoeg. Vir ’n ruk lank was dit ’n sokkerbal met sulke kaal kolle. Later was dit ’n bal met so hier en daar ’n wit of ’n swart blokkie op. Nou is dit nie meer ’n sokkerbal nie. Dit is nou ’n harige bal. So groot soos ’n sokkerbal met sulke lang hare aan. Hare wat baie sterk is. Maya dra die bal aan die hare rond en sy skud hom aan ’n hap vol hare heen en weer dat haar ore flap. Die hare skeur selde of ooit. Baie sterk.
In elk geval, een van Maya se heel lekkerste speletjies is bal - bal. Sy kom aangewip met die bal aan die hare beet en smyt met hom met minagteing voor jou voete neer en staan so tree of drie terug en wag vol afwagting. Kyk na die bal en kyk na jou. Kyk na die bal en kyk na jou. Tot jy uiteindelik die skimp vat. Jy het nou ’n keuse. Jy kan of die bal optel en dit vir haar gooi. Of jy kan die bal vir haar skop. Dis makliker om die bal te skop, want dan hoef jy nie te buk om dit op te tel nie. Maar sy is so ’n uitstekende goalie, dat jy kry nie sommer die bal verby haar geskop nie. Nege uit die tien kere, keer sy die bal net daar en skop hom (letterlik - sy skop met linker- of regtervoorvoet. Nogals hard hoor!) vir jou terug of sy gryp dit aan die hare en kom smyt hom voor jou voete neer en staan ’n tree of drie terug en wag.
As jy die moeite doen om te buk en die bal op te tel, kan jy hom bo-oor haar kop gooi sodat sy moet verder hardloop om hom te gaan haal sodat jy darem kan asemskep voor die volgende gooislag. As jy netjies kan gooi, dan gooi jy hom oor die muur, dat sy eers by die hek moet omhardloop om hom agter die muur te gaan haal. Dit gee jou soms, as jy gelukkig is, genoeg tyd om vinnig by die agterdeur in te hol en in die huis te gaan wegkruip. As jy jou in die toilet toesluit is jy darem veilig. Hopelik teen die tyd dat jy daar jou kop uitsteek, het sy van die bal vergeet en eerder besluit om een van die katte te jaag of die bessies voor langs die swembad te gaan eet. As jy nie betyds die toilet haal nie, soek sy jou tot sy jou kry. Ek het al gehol en agter die bed of agter ’n deur gaan wegkruip. Sy draf die hele huis deur en snuffel jou een of ander tyd uit. (Sy beskou dit as deel van die speletjie).
Gewoonlik wanneer ek op die rekenaar besig is, kom lê Sanctor rustig op die mat so skuins agter my. Hy lê doodstil en slaap, los net so af en toe ’n windjie om mens te laat weet hy is nog daar. Nou die dag kom Maya met haar bal by hare beet by my ingedraf op soek na ’n speelmaat. Ek is besig en nie lus vir speel nie - dus, alhoewel dit onmoontlik is, maak ek of ek haar ignoreer. Sy probeer die bal op my skoot sit. Maar ek knyp toe en sy kry dit nie reg nie. Die bal so op die skoot is soms maar ’n probleem. Sy besluit by tye dat haar bal het ’n was nodig en dan gaan smyt sy hom in die swembad ’n paar keer en dompel hom goed onder. Die hare lyk my absorbeer nogal water, want as sy daai nat bal op jou skoot kom smyt, lyk dit of jy ’n glips gehad het en ’n nuwe broek en onderbroek kort.
Uit pure frustrasie omdat ek nie saam met haar wil speel nie, wend sy haar tot Sanctor wat rustig op die mat lê. Met die bal aan die hare al heen en weer swaaiend, trap - trap sy vir Sanctor op sy kop dat sy tande klap soos sy onderkaak op die mat stamp. Sy trap hom so twee keer en staan vol verwagting terug. Sanctor knyp sy oë styf toe en maak of hy van niks weet nie.
Maya trap hom weer so tweekeer maar hy doen niks. Met ’n sierlike swaai van haar kop swaai sy die bal deur die lug en gooi hom teen Sanctor se kop vas. Die bal bons van sy kop af trek deur die lug en sy vang die bal weer netjies aan die hare. Sanctor kyk verbaas op en Maya staat vol afwagting daar. Maar Sanctor doen verder niks. Wragtig, sy gooi weer die bal en bons hom weer van Sanctor se kop af!! Sanctor trek sy skouers op en knyp sy oë toe. Sy moes bietjie eenkant toe spring om die bal die keer by die kom, maar sy vang hom weer uit die lug uit.
Ek kon nie anders nie. Dit was te goed vir woorde. Ek het hardop uitgebars van die lag! Sanctor dog seker ek lag vir hom. Want hy vlieg toe op en is druipstert daar uit. Maya huppel vol pret agterna!!