17 Julie 2017
OU OMIE LANGS DIE PAD
Sondag, 16 Julie 2017 ry ek na Kandirri om vir Adrie en Anriet te gaan haal.
Tussen Kimberley en Petrusburg sien ek ’n groen Polo langs die linkerkant van die pad staan met die kattebak oop. ’n Ou omie met spierwit hare staan by die kar en stoei met ’n wiel. Die linkeragter wiel is op gedomkrag en staan in die lug. Ek wou eers aanry maar besluit toe ek kan nie die ou omie so los nie. Ek kan sien hy sukkel.
Ek hou stil by hom en vra of ek kan help.
Eers toe ek nader staan, sien ek die ou tannie sit in die passasiers kant van die kar terwyl die kar op die domkrag staan. Die omie het ’n netjiese langbroek aan, ’n wit hemp met ’n moulose truitjie bo-oor. Hy is tengerig en skraal. Hy probeer die wiel optel om in die kattebak te sit, maar ek sien hy kry dit nie reg om die ding hoog genoeg op te tel om in die kattebak te sit nie.
Die omie se hande bewe van die inspanning en met ’n steun sit hy die wiel neer agter die kar. "Boetman" sug hy, "dankie tog dat jy hier stilhou".
Die omie het ’n vuil kol op sy broek waar hy die wiel met sy been probeer help optel het. Op sy Hush Puppie is ’n wielspoor. Hy het seker op ’n stadium die wiel op sy voet neergesit.
Ek sien die omie het klaar die wiele omgeruil en die wielspanner lê nog langs die wiel wat hy omgeruil het. Ek vat die wielspanner en draai die moere behoorlik vas. Hulle was nog heel losserig. Die domkrag is een van daai soorte wat so trapsgewys op en af gepomp word met ’n lang handvatsel. Ek laat die domkrag sak en met elke trap af, sien ek deur die agterdeur se ruit, skommel die ou tannie se wit koppie so heen-en-weer. Sy het ’n hoedjie op haar kop en die wikkel so van kant tot kant soos die tannie wip met die domkrag se aksie.
Nadat die kar weer vier wiele op die grond staan, tel ek die pap wiel op en sit dit in die kattebak. Terwyl die omie die domkrag en spanner in die kattebak sit, stap ek om na die oop venster waar die tannie sit om te gaan verneem of sy darem olraait is. Ek dog sy makeer dalkies iets met die dat sy so in die kar bly sit terwyl die omie dit opgedomkrag het.
Die tannie is ook al spierwit grys. Sy het ’n geblomde rokkie aan en klem die blink swart "patent leather" handsakkie op haar skoot vas met benoude hande. "Ag, boetie," sê die tannie toe ek by haar kom. "Dankie tog dat die jy die oom help. Die oom is ook nie meer vandag se kind nie. Hy het al verlede jaar afgetree. Hy is al ses en sestig jaar oud" sê sy vir my saggies dat die oom nie moet hoor nie.
Hulle het hulle huis vir die kinders gegee en hulle gaan volgende maand trek ouetehuis toe, deel sy my vertroulik mee terwyl die oom nog by die kattebak vroetel. Sy lyk heel ingenome met die skuif na die ouetehuis.
Dis seker omdat ek die dag met Zander se Isuzu dubbelkajuit bakkie gery het, dat hulle my as Boetie aanspreek. Defnitief ’n jongman se bakkie!
Ek wag tot hulle ry Bloemfontein se kant toe. Toe ek by hulle verbygaan wuif hulle altwee vrolik vir my.
Die twee ou mense het hulle so verlustig in hulle ouderdom, dat ek nie die hart gehad het om hulle te sê dat ek ’n paar jaar ouer as hulle is nie.