André de Beer André de Beer

Saterdagaand 21 Augustus 2010

KATTE IN DIE HUIS

Ons het ’n vreemde kat by ons kom besoek aflê snags. Dit moet ’n mannetjieskat wees, want hy laat sms’e en e-posse orals in die huis rond. Ek weet nie wie hy dink dit moet lees nie, want ons drie katte steur hulle glad nie daaraan nie! Ons katte is al drie wyfie katte en is al drie ‘reggemaak’.

Die kat lyk baie soos ons een grys kat, Nikita. en dit is nogal moeilik om hulle te onderskei veral in die aand en so in die verbygaan.

’N baie arrogante kat die kerel! Hy los boodskappe in feitlik elke vertrek van die huis, selfs tot in die verste badkamer! Hy maak dit vir ons baie onaangenaam, maar die dames wat hy seker wil beindruk, steur hulle glad nie daaraan nie. Een oggend vroeg toe ek in sitkamer kom, le die meneer heerlik in Sayuri se mandjie en slaap. Met die dat ek inkom slaap hy nog vas. In die half donker kan ek nie sien watter kat dit is nie en ek neem aan dit is Sayuri wat daar le. Ek staan nader en streel vir Sayuri oor die kop en teen haar rug af. Sayuri is ’n wollerige kat met lekker sagte hare. So met die streel saam, voel ek maar hierdie kat voel dan nie soos een van ons katte nie. Sy hare is kort, hard en styf!

Terwyl ek nog so in verwondering staat oor die verskynsel, vlieg die kat met ’n vaart uit die mandjie uit, reguit vir die venster. Ek skrik my boeglam en steyer agteruit. My voet haak vas aan die los matjie en ek moet baie vinnige kort trappies agteruit gee, arms windmeul in die lug en met die hulp van my beskermengel gaat sit ek baie hard op die rusbank, reg langs die regte Sayuri wat haar ook buite weste skrik vir die inbraak op haar persoonlike aura! Sy vleig met ’n vaart weg en trek rooi hale oor my bobene soos sy sukkel om vastrapplek te kry oor my skoot.

Intussen is die ander skarmunkel by die oop venster, reg langs die mandjie uit en vort. Dit het ’n hele paar oomblikke van diep asemshalingsoefeninge en ontspan tegnieke gekos voor ek my moeisaam van die bank kon lig en my wonde gaan inspekteer.

By ’n ander geleentheid, het ek in die nagtelike ure na die studeerkamer gegaan. In die sitkamer sien ek vir Nikita op die matjie voor die laaste gloeiende kole in die vuurherd le. Gobolino, Anriet se swart kat le op die bank waar ek nou die oggend so neergeplons het. In haar mandjie le Sayuri, of altans dit lyk so en ek is maar baie versigtig deesdae. Ek kom nader en sien die kat, wie dit ookal is slaap lekker vas en steur hom/haar niks aan my nie. Ek kom nog nader en merk op dat die gordyn agter die mandjie, voor die oop venster beweeg! Ek lei af daar is nog ’n kat agter die gordyn, tussen die gordyn en die venster.

Ek draai om en tel die katte wat daar le – een, twee, drie. Almal teenwoordig, so dit kan net ’n vreemde kat wees wat in die vensterbank beweeg. Ek staan nader met een lang tree, baie elegante beweging, wens daar was ’n spieel neffens my dat ek die elegansie kon bewonder! In elk geval, ek tree nader en slaat met my plathand teen die gordyn terwyl ek skree ‘voertsek’! of so so iets – dalk was dit bietjie ’n sterker woord, kan nie so mooi onthou nie, onthou dit was donker!

Ek dink daai kat het hom buite weste geskrik skoon in die ooste in! Ek weet ek het!! Ek het nooit gereken op Sayuri wat hier reg voor my le en slaap nie. Sayuri skrik so groot toe ek teen die gordyn slaan en my krygkreet uiter, dat sy vlieg reguit in die lug voor my op, maak ’n 90 grade draai nog in die lug en storm tussen my bene deur kombuis toe. Weereens steyer ek agteruit van skok en voel hoe rys die hare in my nek. Mis die slag die los matjie en kry my balans voor ek op die bank hoef neer te stort. Ook maar goed, want Sophie het in die dag toe sy skoongemaak het, die bank bietjie verskuif en ek sou hom die slag gemis het. (Moet tog in die toekoms sorg dat die bank altyd op sy regte plek staan – kan ’n mens se lewe red, die bank!) Ek hoor aan die geskrabbel teen die diefwering voor die venster, dat die besoeker is by die venster uit.

Weer nog ’n ander geleentheid, weer natuurlik in die middernagtelike ure, drentel ek deur die huis, (ek vind dat wanneer ek my weer kry dan drentel ek maar in die middelnagtelike ure so deur die huis). Met dat ek deur die kombuis loop, staan daar ’n kat en pille eet uit die katte se bak. Ek dog dit is Nikita. (ek dog darem baie goete terwyl ek so deur die huis drentel – sal moet begin let op die gedoggery, kan mens innie moeilikheid laat beland) Ek stap nader om vir Nikita oor die rug te vryf maar skielik duik sy vir die oop venster reg voor haar. Ek verbaas oor die kat se reaksie, maar toe die kat deur die venster wil gaan, spring Maya wat buitekant die huis is, teen die venster op en gee een blaf vir die kat. Verstommend! Ons honde blaf nooit vir ons eie katte nie. Jaag hulle bietjie rond vir sports ja, maar blaf nie so ernstig vir hulle nie.

Die kat vlieg terug en by my verby op pad sitkamer toe. Toe besef ek eers dit is ’n indringer! Al weer daai kat! Ek gly-gly op my sokkies agterna, net betyds om te sien hoe wapper die gordyn waar hy by die venster uit is. Ek skree ’n paar woorde in woede agterna hom aan om hom op sy pad te help en hoop hy het so geskrik die slag dat hy wegbly.

Vae hoop wat wel beskaam! Ons kry nog gereeld sy tekens in die huis. Reuke hele huis vol – brand gedurg wierook in ’n poging om van die reuk ontslae te raak. Dit help tydelik. Maar ek moet seker maar op my hande en kniege rondkruip en ruik waar presies het hy sy boodksappe gelaat dat ek die spesifieke kol kan skoonmaak. Nou was ons maar net so in die algemene rigting van die reuk en dit help niks.

Natuurlik kan ons ook aan die toestand van die katpille sien wanneer hy hier was, hy vreet al wat ’n bakkie is leeg.

Sien nie juis dat enige van ons katte hom wegjaag nie. Seker omdat wyfie katte nie territoriaal is nie.

Bo