André de Beer André de Beer

27 Junie 2011

Goeienaand almal,

Dit is met ’n swaar hart dat ek julle vanaand toespreek. Jerry is nie meer nie! Jerry had gesneuwel! Na ’n baie moedige stryd, wil ek graag glo. Ou Jerry was ’n vasbyter. Sou nie sommer so ingegee het nie. Maar nou ja, die oormag was net eenvoudig te groot!

Ons was Vrydag Bloemfontein toe gewees vir die gewone ondersoeke by die dokters. Ons huistegnikus (moordenares) had haar kans waargeneem terwyl ons weg was. Sy had my studeerkamer van ’n kant gepak en lyk my alles uitgedra en geskuif en toe, toe ... het sy, ek kan dit nou nog nie glo nie!

Hoe kan iemand so harteloos wees? Hierdie tegnikus van ons het ’n baie gemene streep in haar. Om ’n moord so koelbloedig te beplan en op so ’n slinkse manier uit te oefen!

Arme Jerry, hy moes so bevrees gewees het. Alleen daar in sy ou hoekie terwyl die moordenares genadeloos toeslaan. Ek kan my net voorstel hoe moes hy desparaat in sy hoekie op en af gebons het, soos ’n hartjie wat verskrik en verward fladder! Hy het seker gesmeek en gepleit om genade, dit alles tevergeefs. Sy het haar oomblik goed beplan en seker gemaak ek kan nie weer vir my ou vriendjie in die bresse tree om sy lewe te spaar nie. Met ’n smalende gesig had sy seker met groot plesier vir ou Jerry van die aardbol afgevee met haar moordwapen - die dodelike verestoffer!
Wat ’n vernedering vir my ou pel, om op so ’n manier die tydelike met die ewige te verwissel. ’n Minagtinde smeer van ’n stowwerige bos vere!

Met ons tuiskoms, was die hele moordtoneel nog afgesper met geel polisie bande sodat mens nie die misdaadtoneel kon binnegaan om die bewysstukke te kontamineer nie. Die vingerafdruk deskundiges was besig om elke moontlike oppervlakte met kwassies te bepoeier op soek na ligbare afdrukke. Polisiefotograaf se kamera het kort – kort geflits. Speurders was doenig om verklarings af te neem by die drie honde en selfs die drie katte. Die katte het almal ’n alibi gehad en het in elk geval bewusteloosheid gepleit.

Sanctor het maar baie senuweeagtig gelyk en het vreeslik verdag voorgekom. Gelukkig vir hom kon hulle niks kry wat hom met die misdaad verbind nie - maar hulle het vir hom gese hy moet himself beskikbaar hou vir verdere ondervraging en hy mag nie intussen die dorp verlaat nie. Maya was natuurlik absoluut in haar noppies en het met groot geesdrif haar verklaring gegee. Dit het twee speurders gekos wat albei naarstigtelik in hul boekies skryf om te prober by bly soos sy haar storie aframmel. Sy het haar storie gaan haal by die vreemde hond wat vroegoggend al in die straat rondgehang en baie verdag gelyk het. Sy vermoed dit was ’n Jack Russeltjie. So wit en bruine met ’n wreede grynslag om sy mond. Had kamstig ewe onskuldig hier ’n bossie beruik, daar teen ’n wiel van ’n kar sy merk gelaat en so het hy rondgedrentel sonder om juis enigiets te doen. Wat het hy daar gesoek? Maya was vas oortuig daarvan dat hy een of ander skelmstreek beplan het en net besig was om sy kanse uit te kyk. Miskien was daarop uit om ’n moordjie of wat te pleeg. Of dalk self een van hulle bene van die aand se aandete te kom steel. Maar Maya was te wakker vir hom. Sy het hom fyn dopgehou met haar kop deur die hek gedruk en het hom kort-kort prober wegjaag met allerhande fyn kwinkslae - soos: "hy ou mankbeen wat kom soek jy hier? Jy beter jou ou mankbeentjie hier wegvat voor ons jou nog een gee!" O ja, en toe onthou sy ... hy het sy linkeragterbeen soms in die lug opgetel en net op drie bene gedraf! Dit behoort te help om hom te kan uitken!

Daarna het sy vertel van Missy, die gelerige/grys kat van langsaan wat later in die dag by die venster in die sitkamer ingespring het. Wie weet wat het sy nie binne die huis gaan maak nie? Maya was baie vies dat die deure toe was en sy nie kon gaan kyk wat die kat in haar huis kom aanvang het nie. Die feit dat dit ’n kat is en van die huis langsaan af kom en sommer so nonchalant by haar huis se venster inspring is klaar agterdogtig – boonop kan sy daardie spesifieke kat glad nie verdra nie. So sy moes iets misdadigs kom doen in elk geval want wat anders kom soek sy hier in haar huis. As dit nie sy was wat die moord gepleeg het nie, was sy sekerlik daar om iets te kom steel. Miskien moet hulle haar sommer uit beginsel arresteer en gaan toesluit. Hulle kan later vasstel presies wat sy verkeerd gedoen het – sy het beslis een of ander misdaad gepleeg.

So het Maya volledig en met groot geesdrif vir die polisie presies vertel wat sy alles deur die dag waargeneem het. Hulle het gesukkel om by te bly en het meer as een notaboekie volgeskryf.

Daarna het Quinie aan die beurt gekom. Sy kon niks byvoeg nie. Sy had net gese sy het heeldag in die son gele en slap. Net opgestaan om water te drink en so af en toe ’n draai te gaan loop. Sy het niks gesien nie en dit is al wat sy kan verklaar.

Die hele ondersoek het net mooi niks opgelewer nie. Hulle kon geen vingerafdrukke of voetspore kry nie. Die hele plek was netjies afgevee en sorgvuldig skoongemaak. Lyk soos die werk van ’n professionele sluipmoordenaar. Op ’n stadium was Sanctor die gunsteling verdagte bloot omdat hy so senuweeagtig en verdag voorgekom het, maar hulle kon geen motief by hom vind vir die moord nie en het hom toe - tot sy groot verligting - eers eenkant geskuif as verdagte.

Die einde van die storie is dat Jerry is nie meer met ons nie. Sy hoekie is kaal en leeg. Nie eers ’n enkele ou draadjie oor nie. Net niks.

Ons sal jou mis Jerry!! (Ag ok dan, EK sal jou mis Jerry)

Andre

Bo