André de Beer André de Beer

MAYA EN SWEMBAD

Dinsdag had ek ’n saak in Danielskuil om te gaan doen en nou ja, Maya net daar het die moeilikheid toe begin. Omdat ek nie vooraf wis hoe lank ek in Danielskuil gaan besig wees en hoe laat ek sal terugkom nie, het ek vir ou Quinie by die huis gelos.

Gistermiddag staat ek so bietjie met die tuinslang in die hand en spuit so bietjie hier spuit so bietjie daar, eintlik omlat ek te lui is om enige iets anders te doen. Maya is baie opgewonde oor die straal water en hol al agterna en probeer die straal vasbyt en rondsleep.

So spuit ek die straal dat die water in die swembad plons en Maya leun oor die rand van die swembad vorentoe om die straal te kan hap. Ek laat die water al verder van die kant af spuit meer na die middel van die dam om te kyk hoe lank kan Maya uitrek voor sy haar balans verloor. Na so ’n rukkie is dit dan ook sulke tyd. Haar stert swaai woer woer en haar ore flap soos sy steier om haar balans te hou maar dis te laat en sy val kaplaks binne in die water!

Ek lag so lekker ek kan nie die tuinslang behoorlik vashou nie. Sy val heel binne die water en sink tot op die bodem. Skiet soos ’n prop op na bo en swem met ’n doel op die trappe af. Ek kan sommer sien sy had nou oorgenoeg gehad van die gegiggelry en gelaggery van my. Gee my so in die swem die "evil eye" en ek krul van die lag!

Ek staat nog so en slaat met my hand op my been soos ek vooroor getrek staat van die lag, toe kom stamp sy met haar nat lyf hier teen die agterkant van my bene en daar gaat ek. Ek staan reg by die trappe waar Maya uitgeklouter het. Om my balans te probeer hou, hol ek die trappe af in die water in. Probeer om vinnig genoeg te hol dat ek my bene onder my vooroor vallende torso (en bierboep) in kan kry. As my boep nie so swaar was nie, sou ek dit gemaak het. As die weerstand van die water nie my vlugvlietende voete vasgehou het nie, sou ek dit ook gemaak het.

Maar nou ja. Daar plons ek met die tuinslang nog in my hand en my klere aan binne in die water. Als sopnat (terloops, hier ry ’n wit taxi hier by ons rond met die naam "Sopnat" op die agterruit). Met lat ek uiteindelik my voete onder my kry en op swembad se bodem in my Jordans staat, siet ek daar staat Maya by die trappe. Haar stert swaai lustig heen en weer en haar mond hang oop met tong wat langs die eenkant uithang. Jy sien net tande. Ek is seker sy lag oopbek vir my! Kan sommer sien hoe fonkel daai ogies!

Toe lag ek en sy maar saam. Wat kan mens nou doen, ek het gesoek daarvoor!

Groetnisse,
André

Bo