André de Beer André de Beer

19 Januarie 2009

SANCTOR EET ’N BEEN

Venaand het ek vir die honde elkeen ’n been gegee saam met hulle pille. ’n Lekker stewige beesbeen met murg aan die eenkant en ’n paar taai senings aan die ander kant. Regte honde plesier.

Soos dit ’n goed opgevoede hond betaam, het Sanctor sy warm been fyntjies aan die seningtjie gevat met net sy voortande, uit die bak uitgelig en met sy kop omhoog na die graskolletjie gedraf. Ek was tevrede dat alles is onder beheer. Maya is toe agter die hek besig met haar eie been. Quinie lê al voor haar bak haar been en bekyk om te sien of sy dit kan vat sonder om haar lip te brand – sy glo vas aan “’n haastige hond verbrand sy mond!” Dus het ek in die huis ingegaan om vir my liefie haar laat middag koppie koffie te gaan maak.

Skielik is Sanctor hier al om my. Sy bek is so vol been, ek kan nie ’n woord hoor wat hy sê nie. Toe loop ek maar saam om te gaan klyk wat is die probleem. Ai toggie, hier is Maya besig om al Sanctor se pille op te vreet. Ek het vergeet om die voorste veiligheidshek toe te maak! Maya het vinnig haar kos opgeëet, haar been ’n paar koue gegee en hom onder ’n bos gaan wegsteek, stilletjies verby my gesluip deur die huis en Sanctor se kos gaan opvreet en in die proses vir Sanctor ’n angsaanval gegee.

Dit het ’n paar flinke bewegings van my kant geneem om Maya met ’n slenterstreek weer agter die hek te kry, vinnig omgehol en voordeur toegemaak. Maya was baie verergd toe sy agterkom ek het nie rerig ’n koekie in my hand gehad nie en dit was maar net ’n truuk om haar weer veilig aan haar kant van die hek te kry! Quenie steur aan geen niks, skuifel net nader aan haar bak en begin aanstaltes maak om die warm been tussen die warm sous uit te lig.

Ek stap met Sanctor na die graskolletjie en troos en paai tot hy uiteindelik die been uit sy mond laat val. Maya is nou mooi toe agter die hek en ek dog ek kon nou vir Sanctor los hy sal nou op sy eie aangaan. Ek stap terug kombuis toe om te gaan kyk of die ketel al gekook het. Toe ek voor die ketel stop, hier is Sanctor alweer met sy bek vol been. Kyk my so smekend aan. Ek stap weer saam met hom na die gras en staan vir hom en kyk. Solank ek daar staan langs hom begin hy geleidelik ontspan en kan hy darem die been neersit om so paar droeë slukke te gee. Hy lyk skoon natgesweet van die angsaanval. Sy stert hang, sy ore hang en sy oge hang. Sulke leep oge soos ’n bloedhond. Na hy rustig geword het en die been so paar keer met sy neus omgerol het, besluit ek hy is nou olraait en ek loop weer om by die ketel uit te kom. By die ketel gekom, hier staat Sanctor alweer – met sy been in sy bek!

Ek kon sien hierdie gaan ’n lang storie word! Ek sleep ’n tuinstoel nader en gaan sit hier reg langs Sanctor op die gras. Maya loer vir ons met haar kop deur die hek, maar solank ek hier reg langs hom sit, raak Sanctor meer op sy gemak. Hy gaan lê op die gras met sy rug na Maya toe sodat hy nie vir haar hoef te sien nie en begin ernstig aandag aan die been gee. Eers toe hy die been so liggies aan ’n seninkie vat en ’n paar keer so vlakkies in die lug in gooi en weer vang, aanvaar ek hy is nou oor sy angsaanval. Maar ek moet ook nie té veel beweeg op my stoel nie, dan loer hy vir my!

Dus sit ek op die stoel en kyk vir hom en hy weet ek kyk vir hom en daarom gee hy nou besonders noukeurige aandag aan die been. Hy het natuurlik gedink hy ken die been, hy dra die ding iemers al ’n hele rukkie in sy bek heen-en-weer! Met die dat hy die sening sommer so effentjies met sy voortande vasbyt en ’n trek gee, kom hy egter gou agter dat hierdie is nie sommer een van daai maklike bene nie! Hierdie een doen nie sommer so maklik afstand van sy senings nie! Hy kyk die been met sy kop so op ’n kant gedraai so half verbaas aan en toe wikkel hy sy agterstewe bietjie dieper in die gras in, byt die sening met mening en trap met sy twee voorpote die been aan weerskante van die sening vas. Hy skop sy voete vorentoe en rem met sy kop agtertoe. Die sening rek lank uit maar gee niks skiet nie. Sanctor trek dat sy nek so bewe en sy ore tril. Stadig tel sy stert op en krul in die lug. Alles verniet! Daai sening klou aan die been om lewe en dood. Sanctor los en soos ’n rek skiet die sening terug. Hy lê met ’n uithang tong en snak na sy asem.

Hy gee my so ’n half verdwaasde kyk asof hy wil sê “Nou wil jy nou meer?” Hy trek sy asem diep in en probeer ’n ander taktiek. Hy lê met sy bek skeef en kou die been met sy agtertande lat dit so girts, girts soos hy probeer sening afkou. Oë styf toe geknyp, is hy die ene konsentrasie om die sening af te kry. Na ’n ruk van die gekonsentreerde sening kouery, los hy die been, staan op en snuif al rondom die been in die kort grassies rond. Soek nou daai stukkies sening wat van die been afgeval het sien. Ek kan nie agterkom dat hy veel suskses gehad het nie. Dan draai hy om en girts, girts weer met die ander kant van sy bek.

Met sy neus dop hy die been om begin aandag aan die anderkant van die been gee. Sy voorste ondertande skaaf die been soos ’n vyl op en af. Dit klink soos iemand wat met ’n stomp beitel ou, droë putty uit ’n vensterraam probeer krap. Na ’n paar rasper stote, lek en suig hy eers aan die been voor hy verder rasper. Probeer die murg alles uit die poreuse agterkant van die been uitsuig.

Ek kom agter dat mens (of dan hond) het ’n hele paar tegnieke nodig om ’n suksesvolle beenkouer te kan wees. Dis nie sommer vir net vat en kou nie! Dit verg ook gekonsentreerde aandag sonder ’n Maya om mens se aandag af te trek. Ervaring het beslis ook ’n rol hier te speel. Die kouer moet duidelik kan onderskei tussen ’n been wat stukkend gekou en ingesluk kan word, een wat skoon afgeëet kan word en dan die meesterstukke wat oor ’n paar dae lank bewerk moet word. Die ware ou knoetse soos die een onder bespreking, wat nie sommer so sy senings opgee nie, is een van daai wat eers vir ’n paar dae onder die grond begrawe moet word om die senings kans te gee om hulle houvas bietjie te laat skiet. Die been moet eers ordentlik verouder word. Nie sommer in enige plek nie. Nee, dit moet in ordentlike donker, klam grond begrawe word. Verkieslik so effens onder ’n plant in sodat die ander hom nie so maklik opspoor nie. Na ’n paar dae word hy weer opgegrawe en weer bietjie bewerk. Indien die senings nog te sterk is, word hy weer begrawe sodat die verouderingsproses verder die sening kan gis, oplos en afbreek.

Wanneer ’n hond die huis inkom met so ’n breë glimlag op sy bek wat van oor tot oor strek en hy het ’n hopie vars donker, klam, grond bo-op sy neus, dan weet hy, hy het daai been weer in die spens gaan bêre vir latere aandag! Maar op dié stadium het Sanctor nog nie daai punt bereik nie. Hy is nog heeltemal bereid om meer tyd aan dié been af te staan. Hy gee nie sommer so maklik bes nie!

Hy draai weer ’n slag om die been met sy neus op die been vasgeplak. Sy agterlyf loop sommer vanself so sirkel met sy neus en die been as middelpunt. Dan sak hy neer met die been tussen sy voorpote. Sy tone sprei wyd oop soos hy die been met een voet vastrap lat die ding kan stil lê terwyl hy dit versigtig bewerk met sy tande. Met ’n frons van konsentrasie tussen sy oë kou hy die been eers in hierdie kies dan weer in daardie kies. Hy gooi die been flink met sy tong van die een kant van sy bek na die ander. Dat hy nie in die proses sy eie lip ef wang raakbyt nie is ’n wonderwerk. Ek byt gereeld ’n gat in een van my wange of byt my tong raak dat die bloed so loop. Ek vererg my onmiddellik so dat ek voel ek kan daai tong vat en hom teen die muur vasgooi. Ongelukkig sit my kop daaran vas, anders het ek dit seker al ’n keer of wat gedoen. Daar is min dinge so irriterend as om jou eie tong raak te byt! Dis dan wat ek besef watse harde, skerp tande ek het. Genade, is dit nou rerig nodig dat hulle so skerp moet wees? Sal sommer ’n vyl vat, hom tussen my tande vasbyt en so stadig uittrek! Dis maar goed ek is nie ’n hond nie, met my tand/tong ko-ordinasie sou ek ’n gevaar vir myself gewees het! As mens sien met watter mening hulle ’n been kou en hoe hard hulle by tye byt om ’n groot been stukkend te kou, dan sidder ek as ek dink my tong moet talk in so ’n byt vasgevang word! Eina … !

In elk geval, van die tong op die been, Sanctor lê met sy kop so agteroor en kou daai been in sy kies laat jy kan hoor hoe klap die been of sy tand. Dit lyk asof hy ’n stuk kougom kou. Dat sy tande dit hou is ’n wonderwerk! ’n Hond het darem allemintige sterk tande. En ’n spysverteringstelsel! As mens darem sien die groot sterk bene wat hy heeltemal stukkend kou en insluk. Gee hom nie eers sooibrand nie – sou my konstipasie en aambeie gee!

Die gras rondom hom is al sopnat gekwyl.. So ’n donker kol op die gras, soos hy stoei met die been. Hy maak daai senings nie hond haar af nie! En eindelik aanvaar hy maar die feit dat ander metodes hier toegepas moet word. Tussen die vyeboom en die muur, grou hy ’n gat in die klam grond, laat val die been in die gat en stoot die grond met sy neus toe. Hy druk die los grondjies met sy kennebak liggies vas en daar is dit nou dit! Ek gaan bêre die tuinstoel en ons loop die huis in. Quinie is ook net klaar met haar been, daar is niks van die been meer te siene nie – sy het seker als opgekou. Ek gaan maak die voordeur vir Maya oop en kan nou uiteindelik gaan koffie maak.

Maya is deur die huis by my verby en pylreguit na die vyeboom toe. Sy het natuurlik deur die hek vir Sanctor gestaan en dophou. Nie lank nie of sy lê op die gras en kou heerlik, kop agteroor aan die been. Sanctor weet van niks en lê in die huis op hulle ou kombers en snork soos hy slaap- moeg gestoei met die been.

Andre se Sanctor

Bo