André de Beer André de Beer

11 August 2008

EK, MAYA EN DIE VEEARTS

Hi en goeienaand,

Vir die van julle wat nog nie weet nie, moet ek net ter inleiding sê dat Davina het ’n tyd gelede toe die inbrekers so by haar ou woonstel begin lol het, besluit dat sy moet nou ’n hond kry vir haar veiligheid. Dit het weke se navorsing geneem om uit te vind watter soort ras goed in ’n klein spasie sal aard en wat ’n rustige,kalm hond is, maar tog groot en beskerming teen inbrekers en ander landsgenote sal bied. Na vele twyfel en sieleswroeging (subtiele ontmoediging van my kant - uitwys van al die negatiewe ens. ten spyt) het sy finaal besluit op ’n Labrador. Die "smalls" in die koerante is naarstigtelik dopgehou en na ’n ongelooflike kort tydperk kry sy by ’n veearts in Bloem (’n mesmaker lid van die Gilde - en begin ek al meer dink, ’n verraaier) ’n jong hondjie te koop. ’n Opregte Labrador met pampiere. Gebore op Kersdag 2007, ’n goue kleurige tefie. Die word toe gedoop sonder plegtigheid, maar met baie trots - "Lemaya" en vir kort sommer net Maya. Die hondjie, toe net ’n paar maande oud, neem haar intrek by Davina in die woonstel. Maya word geneem vir formele opleiding by ’n hondeskool waar sy flink geleer word om te sit, te staan en te lê. Leer sommer gebare taal ook en by die gee van die regte teken, gaan sit of lê sy ewe gehoorsaam.

Maya Nou ja, soos dit maar met die dinge gaan, is my voorspellings toe bewaarheid alhoewel niemand dit natuurlik nou wil erken nie! Die goue Labradortjie blyk toe net een erge bondel energie te wees wat geen hondeskool drilsersant of sagte vrouestem kan beheer of laat kalmeer nie. Dit is nou ’n hond met ’n erge ADH probleem Hiperaktief is nie die woord nie! Vra maar vir ons ander twee honde. As Maya op dreef raak, gaan kruip die ander twee honde in ons slaapkamer in die hoek op ’n bondeltjie vir haar weg! Hulle hoop as hulle hul oë styf toe knyp sal Maya hulle nooit daar kry nie!

Maya het al die verskriklikste dinge aangevang. Soos bv. ’n buisie swart olieverf uit Davina se toe toolbox gehaal en op die mat gelê en stukkend kou. Haarself, al vier haar pote, die matte en teelvloere pikswart gesmeer! Ons moes professionele matwassers kry om die mat weer leefbaar te kry.

Anyway, om ’n lang storie kort te knip, Davina kon nie met Maya huis hou nie - haar menige dag in trane gehad. Derhalwe word Maya vir ons aangepass en ons erf ’n lieflike goue hondjie. Hoogs intelligent en met die fraaiste gesiggietjie, moet nie ’n fout maak nie. Maar bedrywig! Julle moet sien hoe kan sy sokker speel met ’n leë 2 liter Coke bottel! Die lawaai is oorverdowend, veral 6 uur op ’n Saterdagoggend al op en af onder ons slaapkamervenster verby.

Oor die naweek merk ons ’n groot knop op haar linker voorpoot. Op die elmboog hang ’n sak so groot soos ’n baie groot hoendereier. Vanoggend vroeg bel ek die veearts en hy sê dis reg, bring haar so agt uur lat hy kan kyk. Ek kry ’n Nissan 1400 bakkie met ’n kappie op te lene, (kan nooit vir Maya alleen in ’n kar vervoer nie. Sy sal die sitplekke opvreet of deur die venster spring of onder die rempedaal inkruip.) sit vir Maya haar leiband aan en daar gaan ons. By die hek uit op pad bakkie toe gaan alles klop disselboom. Maya loop mooi langs my ewe gewillig saam. By die eerste pilaar onder die afdak wou ek een kant om die paal loop, maar sy besluit sy gaan ander kant om. Die leiband pluk haar skoon van haar voete af en net daar besluit sy, hierdie gerondplukkery aan ’n klein hondjie is totaal ongevraag en sy sit daar ’n baklei met die leiband, die pilaar en my aan die gang wat die bure se honde skoon laat stilbly. Ons twee honde hol vir die huis en kyk wie kan eerste in die slaapkamer loop wegkruip! Ek en Maya hol al om die pilaar. Eers die kant om dan daai kant om. Maar verseg of sy net vir ’n oomblik wil stilstaan en my kans gee om die leiband van die pilaar af los te kry. As ek dié kant om wil gaan om aan haar kant te kom, hol sy weg vir my en draai net stywer vas. Ek moes maar my punt van die band los en haar kant gaan vang. Teen die tyd is ek al rooi in die gesig en blaas my asem. En ons is nog nie eers in die bakkie nie!

Voel so al of ek ook al begin gewillig raak om in tale te spreek. Ek gryp die hond se halsband in ’n stewige greep en sleep haar bakkie toe. Haar toonnaels trek ewewydige strepe oor die gladde sementvloer soos sy vasskop. By die bakkie tel ek haar op en rol haar oor die rand in die bakkie in en klap die deksel toe voor sy weer kan uitspring. Net om so bietjie my seëninge te tel, staat ek ’n oomblik met een hand in die sy en die ander op die kappie se dak. Julle moet nou nie staat en dink dis oorlat ek dalkies so bietjie winduit moeg was nie hoor! Ek meen te sê dis darem maar ’n hondjie van nog net sewe maande oud. Wie kan nou nie sommer maklik so ’n jong hondjie optel en netjies binne ’n bakkie sit nie?

Ewentwil daar ry ons na die dieredokter se spreekkamer. Maya sit agter en bekyk die wêreld met baie groot belangstelling deur eers hierdie kant se ruit, dan agter uit, dan weer aan die ander kant. By die spreekkamer aangekom, het ons albei al tot bedaring gekom en Maya klim ewe vol selfvertoue by die bakkie uit en loop weer saam met my die steil trappe af na die spreekkamer toe. In die wagkamer staan ons twee netjies langs mekaar en sy bekyk alles met groot belangstelling. Die gawe dokter sê ons moet net bietjie wag hy is besig met ’n pasiënt en hy is nou by ons. Tot op daardie punt het alles goed gegaan. Maya was rustig en heel geïnteresseerd in alles wat aangaan, maar toe die gawe ou sy ondersoekkamer se deur oopmaak om na sy ander pasiënt te gaan kyk, besef Maya seker vir die eerste keer watter plek hierdie eintlik is. Seker die ander hond bo-op die vlekvrye staal ondersoektafel wat haar so geskok het, dat sy besluit sy wil nie meer hier wees nie! Sy begin spartel en ruk en pluk en soos ’n sjampanje prop, plop haar kop deur die halsband en daar gaat sy! By die deur uit hol sy. En sy kan hol! Die drie vrouens in die wagkamer wat daar sit en niks doen, gil raad en skrou en stoei met my om ook by die deur te kan uitkyk waar gaat die hond. Ek beur tussen hulle deur en sien daar trek Maya teen die trappe uit.

Ek hol agterna. Ek hol nou nie meer so goed soos ’n paar jaar terug nie, maar ek traai darem. Teen daai steil trappe uit! Vir wat hulle ok spreekkamers onder in die vlei wil voor gaat staat en bou lat mens moet trappe op en af straat toe, sal g’n mens ook weet nie! Maar ek hol teen daai trappe uit lat die vrouens amper vir my handeklap!

Bo gekom, staan ek eers bietjie met my een hand so nonchalant op die trap se reeling. Dis nou nie omdat ek eers bietjie wind moes skep nie, glad nie hoor, dit was nou net dat ek kan rondkyk en sien waar is daai goue hond! Ek moet mos eers kyk, nou-nou hol ek dalk in die verkeerde rigting en dan is dit twee keer se hol. Soontoe en weer terug sien! Teen diê tyd voel ek nou nie meer so asof dit ’n goue hond is nie, eerder asof dit ’n bl.... hond dalk kan wees!!

Nog ’n ewentwil, daar in die grondpad af, op pad terug na die middedorp, omtrent ’n blok ver trek Maya in die middel van die pad af. Gelukkig hol sy darem nie meer voluit nie, eerder net so ’n koggel galoppie. Ek los ’n diep, diep sug en vat die pad agter haar aan. Stel jou voor, ’n ou toppie met ’n kaalkop en ’n boepmagie, hol in die pad af lat sy baadjie so agter hom wapper met sy das oor sy skouer. Met elke tree in die grondpad slaat die stoffies so onder my eens blink gepoleerde skoene uit. Ek het net daai oggend vir eerste keer in weke my skoene met die polish en borsel bygekry – was nogal verbaas om te sien hoe kan daai skoenetjies nog blink! Snaaks, al van my army dae af had ek nou nie juis ’n erg aan skoene polish nie. Maar dié oggend had hulle goed geshine, tot Maya kom staat en sports maak het en dit is nog maar die begin van die dag. Nog nie ’n enkele kliënt het tyd gehad om te sien ek kan ook skoene polish nie.

Op ’n hoek staat ’n groepie straatkinders. Hulle waai, beduie en lawaai. Soos ek nader stoom, hoor ek die helfte moedig my aan met honderd persent ondersteuning: “Go for it lanie! Kom ntati, dissie meer so ver nie, vang hom daai hond!”. Die ander helfte gil op Maya lat sy verdwaas omkyk: “Hardloop hondjie, hardloop for freedom!”

Ek maak of ek niks hoor nie, draai net my kop skuins en hol dat die stof so staat. Arms pomp en voete klap. Maya kyk oor haar skouer en lag vir my. Jy sien net rooi tong en wit tanne! Gelukkig is daar niks verkeer nie, net die straatkinders en ’n ousie wat met haar hand oor haar mond staan en kyk. Net toe ek dag ek gaat dit nou nie meer maak nie, ek sal ma die veearts moet bel lat hy my met sy bakkie in die pad kom oplaai, verloor Maya ewe skielik belangstelling in die speletjie. Sy gaat staat in die middel van die pad en wag vir my. Sy haal nie eers vinnig asem nie, ek hyg en blaas. Die wind brand my keel en ek het miltsteek. Met my hanne op my knieë gaat staat ek voor die hond en buk vooroor lat haar mooi in die oog kan kyk. Mense maar dit is ’n vriendelike hond dié! Sy glimlag van oor tot oor en ek kan haar duidelik hoor dink: “Dit was nou vet pret. Ons moet dit meer male doen!”

Ek tel vir Maya op – sy is nou dood rustig – en loop met haar in my arms terug na die spreekkamer toe. Die straatkinders jil en juig en toe ek verby hulle struikel met die geweldige groot hond in my arms (dêm maar die hond kan vinnig groei – net vanoggend nog was sy maar nog nie agt maande oud nie, nou is sy ten minste vyf jaar, voel dit vir my!) hoor ek een skreeu: “Hey lanie, moetie daai hondjie so druk nie man! Gee vir hom bietjie living space in die lewe, ek sê!” Ek stryk ma verby – ek het in elk geval nie asem oor om op hulle te mors nie.

Hoe verder ek gaan hoe swaarder word die geel hond! My bene bewe al klaar van die gehollery, nou begin my armse ook bewe van die inspanning om die vet hond te dra! En my rug! Ek’t sommer geweet dat die volgende dag gaat ek ’n rug aan my hê! By die trappe af by die spreekkamer lol dit maar. Ek dra Maya in my arms en kan die grond voor my voete nie sien nie. Probeer so verby Maya loer om te sien waars die trappe. Sy sien ek loer en rek haar nek om te probeer sien waarna kyk ek, druk haar kop al voor my in sodat ek nog minder kan sien. Ek klim voel voel trappie vir trappie af en die oranje/rooi hond word al hoe swaarder!

Bewend kom ek die spreekkamer ingestrompel. Die ontvangsdametjie (ene met rooi rooi – regte rooi – hare) sê ewe liefies vir my: “Oom kan maar ingaan, dokter wag al vir oom!”

Ek plak Maya sommer onderstebo op die staaltafel neer. Dit neem die veearts ’n oomblik om uit te sorteer waar sit wat van die hond so tussen die pote kop en stert deur. Nadat hy alles weer op hulle plek gerangskik het, gryp hy ’n groot spuitnaald en druk dit in die swelsel op die hond se elmboog. Hy trek twee spuite vol vog daaruit – lyk soos flou tee. En toe seg hy, “Ag nee wat, dis nie ernstig nie. Sommer net ’n stampplekkie wat bietjie vog opgebou het”. Teen dié tyd is my asemhaling so, dat ek darem kan hoor wat sê die man. My bene bewe en ruk en ek klou aan die tafel se rand vir ondersteuning – en hy sê ag nee wat dis nie so erg nie! Ek wou net vir die man sê, hy moet bietjie traai om so teen sy eie trappies op en af te hol, toe onthou ek, dié ou was ’n provinsiale hekkies en 100 meter kampioen op sy dae. Hy sou seker die dekselse hond binne die eerste 20 tree ingehol het. Toe bly ek maar stil en rus verder. Daarna het Maya baie soet, asof filletsteak nie in haar mond sal verdwyn nie, saam met my teruggeloop bakkie toe. Ons is in die bakkie en huistoe. Ek het dit ernstig oorweeg om die res van die dag af te vat en sommer op die bed te gaat loop rus. Had toe liewer maar my skoene met my das afgestof en terug gegaan kantoor toe. As dit ok nie was dat dit ’n gelene bakkie was wat teruggegee moes geword het nie, het die bed dalk gewen.

Terloops, niemand het die dag eers gesien lat my skoene blink nie!

En dit was my en Maya se dag by Boeta die veearts.

Groetnis,
André

Bo