Desember 2009
Dit is algemeen bekend dat ons dié Desember die Oos-Kaap besoek het. Meer spesifiek natuurlik Oos-Londen. ’n Plek waar ek, sover my bewussyn terugstrek, nog nooit was nie. Shani is van mening dat ons as kinders daar was, maar ek moet een van ons twee se geheue in twyfel trek en as ek enige sê in die sakie het, dan maak ek maar staat op my geheue en sê ek was nog nooit in Oos-Londen nie.
’n Deurmekaar plek die Oos-Londen. Maklik om te verdwaal. Selfs vir so ’n staatmaker Voortrekker soos ek. Inderdaad, ek het gevind dat dit neem nie veel verdwaal talent om jouself elke kort – kort op ’n splinternuwe plek te bevind waar jy nog nooit van te vore was nie.
In die Oos-Kaap het ek ’n paar nuwe dinge geleer. Wys jou net, jy is nooit te oud om te leer nie. Eerstens het ek geleer dat jy moet nie hulle storte onderskat nie. Dit is nou ’n ding wat ’n mens met ontsag moet benader – dis nie vir sommer net so nie!
Tweedens het ek geleer dat ek nie veel weet van motorkar ry nie! Die stukkie het ’n taamlike aanloop, so julle moet maar bietjie geduld gebruik terwyl ek die storie ’n entjie terug loop haal. Nog op pad na Oos-Londen het ons heel rustig getoer, so bietjie vinniger as die res van die verkeer sodat ek gereeld by ander voertuie moes verbysteek. Die pad was lekker breed met ’n goeie opppervlakte en ’n geel streep links om in te skuil indien nodig. Teen bulte uit, is dit dubbelbaan sodat die stadiger verkeer kan links hou en ons regs kan verby-zip!
Ons toer nog so rustig aan en sjoep, gaat da ’n bronze Porsche 911 verby ons. Swaai voor ons in, gaat nog so twee karre verby en da gaat hy! Flink, rats, vol selfvertroue in sy superioriteit! Ek bespreek vinnig die sakie met myself: “Myself, seg ek vir myself, ons is met vakansie en hier kom tart hierdie ou ons sommer so ongevraag met sy ou klein Porsche’tjie. Myself is nie baie lus om die ou sakie daar te laat nie. Ok, seg ek toe vir myself, kom ons gee die ou ’n go!” En toe haal ons die BM-pie uit speedocruisemode en trap die lepel dieper. Ons gaat ok ’n paar karre verby en nie lank nie, toe sit ons op die Porsche se stert, so naby lat ek kan sien die ou se nommerplaat is ’n EC plaat.
En da gaat ons, soos twee karre wat met ’n tou aanmekaar vasgemaak is. As hy by ’n kar verbygaan, gaan ons verby. As hy vinniger ry, ry ons op sleeptou ok vinniger. Later is dit 180 en nog later 200 en toe nog so ’n bietjie meer. So jaag ons agtermekaar aan vir seker so ’n 30 kilometer. Op ’n punt raak die ou toe moeg vir my en hy begin kanse vat. Steek verby op soliede wit lyne ens. Toe hy weer ’n groot, lang lorrie so op die nippertjie verbysteek seg myself vir my – ok, dis nou genoeg. Laat die ou maar gaan. Jy hoef nie sulke kanse te vat nie. Myself lig voet van lepel af en sit vir cruise control aan en daar gaat die bronze Porsche oor die bult en weg. Ek sien Liefie hier langs my haal so stadig haar voet van die rem af en haal diep asem. Sy het heeltyd niks gesê nie en ek dog sy kom nie eers iets agter nie.
Die doel van hierdie storie is om te verduidelik hoekom ek die Oos-Kaap met soveel selfvertoue in my eie bestuursvernuf aangepak het. Ek was op die toppunt van die mishoop! Ek was totaal in beheer en dit was nie vir my nodig om my te steur aan al die Toyota’s wat so op die snelweg by ons verby jaag nie, want daar was vir my net mooi niks oor om te bewys nie!
Erêns in Oos-Londen op die snelweg – drie bane – ry ons ’n dag of wat later teen ’n laaang bult uit. Heel rustig in die middelbaan. Ek kyk in my spieël en sien hier kom ’n Citi Golf, so verlepte pienke van agter af aan. Met dat ek weer in die spieël kyk, sit die Golfie so styf agter my dat ek nie sy nommerplaat eers kan sien nie. Ek glo nie daar is ’n halwe kar lengte tussen ons nie! En daar sit die Golfie. Lyk soos ’n meisie wat bestuur met ’n wilde bos hare soos ’n tolbos. ’n Rooi tolbos met ’n selfoon teen die linkeroor vasgeplak.
Die linkerbaan is heel oop. In die regterbaan agter my kom ’n bakkie met ’n groot vrag agterop aan. Maar, sy kan mos aan die linkerkant verby gaan! Moenie glo nie sy klou soos ’n neet aan my. Ek voel al hoe knyp ek my boude vas lat sy my nie van agter moet stoot nie. Ek gee so bietjie vet lat sy darem nie sò naby aan my moet ry nie. Maar sy kom. Gee ook vet en sit hier op my stert. By tye los sy die wiel om te kan beduie vir die een aan die ander kant van selfoon. Gryp weer vinnig na die wiel as die Golfie links trek. Maar sy kom!! Die bult lê nog lank voor ons.
Net daar seg myself vir myself: “Myself, maar jy kan jou mos nou nie so laat intimideer nie. En dit nog deur ’n rooi tolbos!”. En met dié skop ek die pedaal teen die vloer vas. Die BM gooi ’n paar ratte laer, amper een by die venster uit, en daar gaat ons. Druk ons sommer so vas teen die sitplek soos ons versnel. Ek sien die tolbossie word sommer so klein in die spieël Ek en myself lag stilletjies van pure lekker kry en ek klou aan die stuurwiel soos die kar versnel. Man, maar dis ’n lekker kar dié! Vol selfvertoue stap ons teen die bult uit asof daar geen bult is nie! My kuif staan sommer penorent van pure manmoedigheid!
Uit die hoek van my oog, sien ek ’n beweging aan my regterkant. Ek kyk regs. En ek kyk weer en ek kyk weer! Net soos daai tv kykweers waar die krieketbal so vorentoe en agtertoe gaan, so gaat my oge vorentoe en agtertoe! Aan ons rgetkant kom die ou Toyota bakkie teen die bult op by ons verby!!! Dis ’n ou bakkie. Hy is vol roesgate. Hy het tralies agterop die bak en hy is vol gelaai tot bokant die tralies uit. Alles met ’n swart seil toegemaak wat met toue bo-oor die vrag vasgemaak is. Die seil wapper in die wind en dit is duidelik dat die vrag is tuinvullis en rommel. So hier en daar hang ’n tak en elke paar tree vlieg ’n papier met ’n sierlike boog onder die seil uit. Word deur die wind hoog gelig bo-oor ons kar en vlieg deur die lug.
Die ou geroeste bakkie is besig om vir ons teen die bult weg te ry. My petrolpedaal is plat teen die vloer getrap. Ons versnel dat my kop agteroor beur en ek in die sitplek vasgedruk
word en die ou bakkie ry vir ons weg!! Sy uitlaatpyp is so geroes dit lyk soos ’n vergietes. Swart bolle rook borrel by die vergietes uit en dwarrel al agter die bakkie aan. Seil wapper, papiere vlieg hoog die lug in en takkies blare sidder en beef met hier en daar ’n blommetjie wat blare oor die pad strooi. Teen die lang bult uit rook, skud en beef die bakkie by ons verby en trek onder ons uit!! Die nommerplaat seg natuurlik “EC”.
Opeens gaat lê my kuif plat. Ek haal my voet van die petrol af en sak al hoe laer in my sitplek weg. Al my Porsche selfvertroue het deur die vergietes uitgeloop en weggespoel net die stomme verbasing lê sulke klontjies in die vergietes. Ek seg niks en hoop niemand anders in die kar het die vernedering opgelet nie! Ek is te bang om met myself ’n woordjie te wissel en maak asof ek myself glad nie hoor nie.
Net daar, teen daai lange bult uit, leer die lewe my weereens ’n les! Jy moet nooit dink jy is d….. grênd nie want mense wat dink hulle is so d….. grênd, is nie rerig so d……. grênd nie! Erêns is daar altyd nog ’n ou met ’n geroeste ou Toyota bakkie om jou op jou plek te sit!!!
Op Cintsa waar ons tuisgegaan het vir Anita se troue, het ons in Cintsa Gastehuis gebly. ’n Groot huis met vyf slaapkamers. Heeltemal ’n aangename plek. Ma, Shani en Petr, Leon en Adrian en ek en A3 het daar tuisgegaan. Lekker by die see. Nadat Leon my daarop gewys het, kon ek ook in die sitkamer op die rusbank sit, my nek teen die regte hoek kantel en so ’n driehoekie see sien tussen die bome deur.
Elke slaaplkamer het sy eie badkamer. Ons sin had ’n stort. Ek het al in baie gastehuise gebly en meeste van hulle het ’n stort. Ons het selfs ’n stort by die huis. ’n Stort is nou nie heeltemal volksvreemd nie! Ek het al groot storte gebruik, ruim storte (soos in City Lodge – man is that a shower! Pulsing head, swirling head, twisty head and enough room for the whole team.), beknopte storte, selfs klein storte niks groter as ’n besemkas nie, so ek beskou myself as redelik stort opgelei. Soos potty training – iets wat jy nie sommer weer verleer nie! As jy dit eers het, dan het jy dit! Dubbel krane, ou krane van geelkoper, kombinasie krane, enkel hefboom krane, ronde “dial” krane ens.
Ek kan dus met ’n redelike mate van akkuraatheid sê, dat ten spyte van my vernedering met die rokende vergietes die vorige dag, het ek ons eerste aand in die gastehuis, die stort met ’n goeie skoot ervaring betree. Vol selfvertoue trap ek oor die drumpel van die stort, loer deur my bril om te sien waffer ene is die warm en waffer ene die koue water (Die les het ek al geleer. Sien ek ken storte. Al te veel kêre weer moes uitklim om my bril te gaan haal om te kan sien wat is koud en wat warm) klim weer uit en bêre my bril op die toilet sitplek. Trap weer oor die drumpel en maak die glasdeur agter my toe. Ek draai om en maak weer die glasdeur toe. Ek draai om en maak weer die glasdeur toe. Die bleddie deur wil nie toebly nie! Ek maak weer die deur toe. Die onderpunt van die deur hak aan die drumpel en wil nie mooi toemaak nie. Met my groot ervaring van stortdeure in die verlede, weet ek dat geweld is die antwoord. As die ding nie werk nie, gebruik jy nie genoeg geweld nie! Ek moker die deur toe. En ek moker die deur nog harder. Ek probeer die deur optel op sy skarniere dat hy oor die hakplek kan kom. Dit is ’n baie stewige glasdeur. Hy laat hom nie sommer optel deur enige Jan-rap-en-sy-maat nie! Met ’n kombinasie van optel en moker, m… ek uiteindelik die deur toe! Koes met die een hand vir ingeval die glas in die proses uitval. Gelukkig hou die glas en die deur is nou toe.
Selfbeeld weer op sy plek, fluit ek liggies deur my tande die mars uit “The Bridge over the River Kwai”, terwyl ek my waslap, sjampoo, seep ens strategies posisioneer. Ek staan terug tot in die verste hoek by die deur en draai die warm kraan oop. ’n Baie bevredigende, gesonde stroom water spuit by die groot kop uit en ek koes en tree nog terug en tree weer vorentoe dat my kaal boude nie teen die koue teëls druk nie. Die water word lekker warm en stoom begin rondswaai in die glashokkie. Ek leun versigtig vorentoe en maak die koue waterkraan liggies oop. Staan terug vol afwagting en wag vir die resultaat. Niks. Net warm water wat my nou bietjie begin te stoom.
Leun weer vorentoe, koes vir die stroom warm water en draai koue waterkraan ’n lekker halwe draai oop. Staan terug. Niks. Raak nou so bietjie versigtig en agterdogtig vir die koue kraan . Nie baie lus vir ’n stroom skielike koue water in my gesig nie. Leun weer vorentoe en draai kraan nog ’n halwe draai. Staan flink terug vir ingeval die ding skielik besluit om te werk. Fluit nie meer die mars nie. Staar oopbek na die gedoente. Daar gaat nog niks aan met koue water nie. Net warm water wat lustig spuit en my voete begin brand.
Leun vorentoe en draai die warm water so aks toe, laat my voet nie so rooi word nie. Gee die koue kraan weer so draaitjie, baie versigtig. Nog niks. Leun vorentoe en kry my oefening vir die dag in. Draai die koue kraan weer sommer ’n fris draai. Boeta, ma spuit daai water! ’n Stroom spuit my tot teen die glasdeur vas. Ek hoes en proes met water in my gesig, my mond en my oë. Yskoue water!
Ek beur teen die stroom water vorentoe en draai die koue water halfpad toe. En toe gebeur dit!!
Ek dog iemand skiet op my. Wou net platval om skuiling te soek, maar was bang ek versuip in die strome water. Daar is ’n lawaai aan die gang soos ek nog nooit in enige stort beleef het nie!!! Dit is ’n klakke-klakke lawaai soos ’n massiewe groot dieselengin wat reg hier in die stort opgestart het. Ek koes met my hande oor my kop en kniel in die verste hoekie op my hurke. Ek kom tot verhaal en tel myself daar van die teëls af op en ek besef dis die stort wat so tekere gaan. Iets groots is hier fout. Ek gryp die stortkop vas en probeer die vibrasies demp, ma wat wou, my hele arm dril van die gebewe in die pyp
en stortkop. Ek probeer die krane stel. Oop en toe, grooter en kleiner. Eers warm dan koud. Maar niks help nie. Dit is ’n ontsettende lawaai.!!
Ek maak al die krane toe. Die stilte is oorverdowend! Ek haal die stortkop uitmekaar om te sien of daar iets in die kop los is wat so ’n vibrasie kan veroorsaak. Sien niks. Ek besef dat teen die tyd is al die mense in die huis seker in rep en roer oor die lawaai. Debatteer vlugtig met myself of ek my nat lyfie by die deur sal laat uithang en vir almal skreeu: “Ek’s olraait.” Besluit daar teen. Niemand worry seker oor my nie, hulle dink dit is Al Qaeda wat hulle aanval! Hulle het waarskynlik vrede met my en my welstand, dis nou elkeen vir homself daarbuite!
Ek sit die stortkop weer aanmekaar en begin die proses weer van voor af. Teen die tyd dat die stroom koue water my teen die deur vasspoel, weet ek al wat om te verwag. Soos wafferse groot ontdekkingsreisiger in die vreemde, staan ek my man, kners op my tande en was baie vinnig terwyl die mortiere hier om my ontplof. Liewe ouers, wat ’n lawaai!! Ek was vinnig skoon (ok, redelik skoon onder die omstandighede. I might have missed a spot here or there.)
Na die salige stilte neergedaal het, probeer ek daai glasdeur oopkry. Moes later hom optel terwyl ek stamp en met ’n voet teen die onderste hoek van die glas skop! Met ’n slag knars die ding oop! Dié in die huis wat die mortier aanval oorleef het, is sekerlik nou wakker van die knal van die deur wat oopbreek!
Ek't my klere weer aangetrek na ek afgedroog het en versigtig my kop by die badkamer deur uitgesteek. Adrie lê rustig in die bed. Sy het nie eers kom kyk of ek die aanval oorleef het nie! Seker ook maar versigtig vir die skote en dog die bed is maar die veiligste plek Ek gaan by ons kamer uit en in die sitkamer kry ek vir Petr wat op ’n regop stoel ’n meter van die TV af sit en TV kyk. Ek vra vir hom of hy iets gehoor het. Al wat hy sê is: “It interfered with my TV!”
Die volgende oggend het ek van heelwat verskillende ervarings verneem oor die aanval die vorige nag. Ek sal vir julle sê, storte in die Oos-Kaap is nie vir sissies nie!
Groetnisse,
André