André de Beer André de Beer

21 Desember 2011

Vanoggend met dat ek die deur oopmaak, kom groet die honde soos gewoonlik. Behalwe Maya. Sy is nie dadelik daar nie. Eers na ek die ander se ore getrek en hul koppe gevryf het - ons vroegoggend ritueel – kom Maya van buite af met haar stert tussen haar bene vasgeklem al huilende!

So ’n droewige gesig had ek langslaas gesien! Sy het nie soos ’n hond getjank nie, sy het behoorlik gehuil soos ’n klein kindjie. Tog so hartseer. Hier onder my kom inklim asof sy kom skuiling soek. Ek was so geskok, ek het nie geweet wat gaat aan nie. Na ek tot my sinne kom, probeer ek die hond bekyk om te sien of sy enige beserings opgedoen het. In die swak lig van die voorportaal lyk dit asof haar hele agterkwart donker is van die bloed!

Met die lig aan en my bril op, siet ek dis nie bloed nie, dis modder. Sy het in die swembad geklim en toe iewers in die grond gaan sit en woel. Sy knyp nog steeds haar stert tussen haar bene vas en sy weier dat ek kyk na wat aangaan. Sy het darem teen die tyd opgehou huil maar, gee nog sulke fyn tjank geluidjies wanner sy te vinnig beweeg of wanneer sy probeer om haar stert te waai. Sy sit en bewe. Of dit nou van skok is of van pyn of wat weet ek nie. Daar is beslis iets fout met haar stert of iewers in daai omgewing.

Ek is gewoond daaraan dat Maya se stert altyd trots, vol entoesiasme na agter staan, netsoos ’n Labrador sin behoort te staan. En meeste van die tyd swaai haar stert lustig heen en weer. Nou nie so opgewonde soos ou Quinie se stompie nie, maar darem. Nou as sy haar stert nie tussen haar bene vasknyp nie, hang hy lusteloos reguit af grond toe. Ek het besluit, na die bietjie ondersoek wat sy my toelaat, dat haar stert gebreek moet wees. Bo by haar rug net na die eerste stert werwel.. Want van daar af hang die stert lusteloos, reguit af grond toe soos ’n stuk lap.

Hoe de joos sy dit reg gekry het weet ek nie. Ek kan nie eers raai nie. Ek is besig om water in die swembad te tap en hy is nog net so half vol. Miskien het sy in die swembad in geval op die trappe - of so iets. Ek weet nie. Al wat ek weet, dit is alweer tyd dat ek en Maya die hondedokter gaan kuier.

Ek verneem die hondedokter had vandag kliniek gaan hou op Prieska en hy sal eers na 3 vanmiddag terug wees.

So deur die loop van die oggend, op pad hof toe en weer terug van die hof af, gaan loer ek by die huis in om te kyk hoe gaan dit met Maya. Dit lyk asof dit heelwat beter gaan. Sy tjank nie meer nie, maar die stert hang nog morsdood af grond toe. Sy gaan versigtig sit en sy staan net so versigtig weer op. Sy is hier al om my en al onder my in, so asof sy bang is dat ek weer gaan loop en haar met haar af stert hier by die huis los. Ek het egter geen keuse nie. Eindelik breek drie uur die middag aan en ek gaan huistoe om vir Maya te gaan haal. Die keer had ek my strategie vooruit beplan. By die huis sit ek die nuwe, neon pienk halter stert hasnrt nog nter gaan. sy er terug van die hof af, gaan loer ek by die huis in om te kyk hoe gaan di wat Anriet gekoop het, vir Maya aan. Met haar gebreekte stert is sy baie meer kalm en minder energiek as gewoonlik. Met netso effense se gestoei en teenpratery laat sy my toe om haar voorpote deur die halter te sit en die ding om haar nek vas te gespe.. Die bande wat kan stel op die ding, trek ek so styf as ek kan. Haar tong hang uit soos sy snak na asem, maar daardie risiko gaat ek nie loop nie! Nou maar bietjie noustrop trek, netso lank sy nie weer weghol nie.

Lyk sy nie te fraai in haar neon pienk halter en leiband nie! Mens kan haar nie miskyk nie.

Sy loop ewe besadig saam kar toe en spring in toe ek die kardeur oopmaak. Sy sit baie rustiger as nog ooit van te vore op die agtersitplek en loer oor my skouer by my ruit uit. Ekt my ruit heel afgedraai en sy druk haar neus by die venster uit en laat haar ore in die wind wapper.

By die spreekkamer staan daar ’n vreemde TATA bakkie, skeef in die pad, reg voor die trappe af na die spreekamer. Op sy kant is in baie groot letters geskryf in rooi verf. Kan sien dit is sommer so met ’n kwas opgeverf. Langs die linker kant van die bak af staan “DIE GROOTSTE” agter op die oopmaak klap staan “GEMORS” en langs die regterkant af “BAKKIE IN DIE LAND”. So ’n vuil, bruin, verlepte bakkie.

Ek hou voor die bakkie stil, nes hy, aan die regterkant van die pad, so na aan die trappe as ek kan kom. Terwyl ek - net saggies in my binneste - die ou swets wat so met sy “Grootste Gemors” die hele trap toe staan, maak ek die agterdeur oop en vang gou Maya aan die leiband voor sy kan wegkom. Sy klim heeltemal gewillig uit en sy loop so al snuifende aan die plante na die trap toe. Skuur tussen die “gemors” en trapreëling verby. Net daar op die boonste trappie begint die dinge toe nou mos.

Ons gewilde hondedokter se twee dogters is by die spreekkamer met hul klein hondjies. Die eerste een loop ons raak net daar bo aan die begint van die trap. Dis ’n klein steekhaar handjie, bruin en wit, met sulke hare wat in sy oge hang nes ’n rebelse tiener. Miskien kan hy nie mooi sien nie. Hy staat op sulke stywe beentjies nader. Maya steur haar nie aan hom nie en ons maak gereed om met die trappe na benede te daal na die spreekkamer deur. Die hondjie kom nie eers tot by Maya se enkel nie, nevermaaind myne. Regte klein pipsqueek.

Trek daai hondjie los en begint vir Maya te vloek. Mense, die tale het my ore laat rooi word, dink net hoe moes Maya voel! Hy hop op stywe voorbene op en af en blaf dat my broekspype so vladder. Maya vlieg net daar om en kies koers terug straat se kant toe. Sy skel nie eers terug nie. Tussen die “groot gemors” en die trapreëling kry ek haar onder beheer. Ek het my hand onder die halter in, op haar skof en klou vas dat sy nie kan kop uittrek nie. Terwyl ek met een hand probeer die sweet uit my oge vee, sukkel nogal met ’n bril op, klou ek aan haar met die ander hand. Dis die laaste tyd, uiteindelik lekker warm (soos dit hoort in die somer) hier by ons. Daar is baie wolke en dit dreig elke dag om te kom reën soos jy nog nooit reën gesiet het nie, maar nes daai hondjie met die hare in die oge, bly dit net by dreig. Die gevolg is dat die humiditeit baie hoog is en ek sweet asof ek betaal word. Terwyl lat ek nou so klou en sweet , kom daar ’n jong lat met ’n kort broek, bosstewels, ’n kakhi hemp en ’n kakhi hoed teen die trappe opgebons. So vol lewenslus en energie lat ek sommer lam wore, so van my se skouerse af tot onner in my kniege.

Maya skrik haar amper uit die halter uit vir al die energie. Sy is gewoond daaraan om in enige situasie die een te wees met die heel meeste energie! Sy begin weer ruk en pluk en ek stoei met haar. “Ag askies oom. Het ek nou die hondjie skrik gemaak?” seg die laaitie terwyl hy so op en af wip op sy tone. Ek stoei met Maya en seg net niks. Hy klim hier by ons in die “Grootste Gemors” en start daai engin! Liewe ouers! As ek ’n los hand gehad het, het ek my ore toe gedruk. Die “Gemors” se uitlaatpyp is baie duidelik ook nou nie van die beste nie. Daai bakkie brul! En die laaitie rev hom dat die stukkende uitlaatpyp stofwolke onder die bakkie uitdraai brul! en niks. Hy klim hier by ons in die "t baie ho. Maya hou net mooi niks van al die lawaai nie en ek en sy gaat weer daar aan die bakleie oor die beheer van die halter en leiband. Sy ruk en pluk laat my kop so op en af dobber. As ek valstande gehad het, het hulle teen die tyd lankal in die stofstraat gelê.

Wonder bo wonder wen ek die geveg en kry alles weer onder beheer. Baie trots op myself dat ek die halter dié keer so goed aangesit gekry het. (Sien jy Anriet, dis hoe mens dit doen!) Na die “gemors” bakkie se stofstreep om die hoek verdwyn het en al die honde in die buurt opgehou blaf het, pak ek en Maya weer die trappe aan.

Sy is bietjie meer rukkerig en plukkerig as van te vore, maar dit gaat nog heel goed teen die trap af tot onder. Onder tussen die trap en die deur van die spreekkamer kry ons weer vir die rebelse tiener. Hy begin weer blaf en een van die dogters maak die spreekkamer deur oop sodat haar ander hondjie - lyk presies nes die eerste - ook kan uitkom en aan die pret kan kom meedoen. Met die tweede enetjie by, is die moed twee keer so groot. Die een vat Maya se een agetrpoot en die ander ene die ander agterpoot. Verwoed val hulle Maya van weerskante af aan en byt haar hakskeensenings.

Dis op die dat Maya besluit nee wat, dis nou genoeg vir een dag. Sy ruk en pluk lat sy my amper onderstebo pluk, ek struikel oor die een hondjie en hy hol tjakend weg. Maya rem agteruit, die ander hondjie is in die pad en ek kan nie keer nie. Maya ruk haar kop uit die halter uit en daar gaat sy straat toe.

Een van die dogters kom by die deur uit, gee my ’n vuil kyk en seg “Sies oom, dit was nie nodig om die ou klein, arme hondjie te skop nie!” Skop, wat wou! Pleks het ek hom geskop die swerkater! (of is dit nou ’n swerhonder?) Anyway, ek strompel teen die trappe uit om te kyk waars Maya. Sy staan in die middel van die grondstraat verbouereerd en rondkyk. Al die honde van die buurt vloek en skel dat die spoege so waai. Ek gaan maak die kar se agterdeur oop en daar storm Maya nader en spring in die kar in! my bek hang oop van verbasing. Baie dankbaar maak ek die deur agter haar toe. Ai ek was darem nie in die hitte lus om straat af of op te hol nie.

Ek weet ek sal nie weer die halter vandag aan haar aangesit kry nie. Dus is dit maar terug na die ou manier! Ek sal maar vir Maya in my arms moet afdra. Met my splinternuwe withemp aan.

Ek maak die agterdeur van die kar oop om Maya uit te tel. Sy wil niks daarvan weet nie. As ek net my hand uitsteek, spring sy tussen die twee voorsitplekke deur en gaan sit voor. Ek kan haar nie bo-oor die ruglenings by kom nie. Ek maak die agterdeur toe en gaan maak die voordeur oop. Maya spring terug agtertoe. Ek maak die voordeur toe en maak die agterdeur oop. Maya spring terug vorentoe. Ek maak die agterdeur toe en maak die voordeur oop. Maya spring terug agtertoe.

Ek besluit nee wat, de h.. met die storie. Ek slaat die deur toe en loop na die trappe om die afspraak te gaan kanselleer. By die trap kom die hondedokter opgeloop en vra: “ Het die ou hondjies jou hond nou skrik gemaak?” Ek mompel net onderlangs. “Kom ons gaan kyk” seg hy en loop kar toe. Op sy instruksies klim ek voor in en hou Maya se kop tussen die sitplekke vas lat sy hom nie kan byt nie. (sy byt dan nie eers daai twee klein terroriste nie, hoe sal sy hom nog byt?) Hy klim agter by Maya in en probeer kyk wat met haar stert aangaan. Maya druk haar boude en stert styf in die hoekie tussen die agtersitplek en die deur in. Sy laat nie sommer enigiemand na haar boude kyk nie!

Met ’n groot gestoei kry hy Maya se stert so half half opgelig. Hy gaan lê met sy kop op die sitbank en loer onder haar jis in. Maya ruk verontwaardig haar stert uit sy hand uit en gaan sit op haar jis lat niemand dit kan bekyk nie. Alla wêreld, het mens ook geen privaatheid meer in die lewe nie!

Na hy so bietjie sy kop gekrap het, met daai selfde hand wat die stert opgetel het, spreek hy sy opinie uit. Die stert is beslis nie gebreek nie. Sy sal nie so styf hom kan vasknyp of wegruk as hy gebreek was nie. Hy sien ook geen wond nie. Daar is niks bloed nie. Al wat hy sien is ’n rouerige kol op die kant van haar stert waar sy die stert gebyt en gelek het. Ek het vroeër die dag gesien sy knibbel en byt daar asof iets haar daar irriteer.

Hy weet nie wat dit is nie. Op my navraag seg hy dat dit is nie iets wat haar daar gebyt of gesteek het nie. Wetie hoe weet hy dit nie, maar ek glo hom nie so lekker nie. Sy was die oggend beslis getraumatiseer deur iets. Ek had om die huis geloop om te kyk of ek nie dalk ’n slang iewers sien nie, asof ’n slang nou daar vir my sal wag om my te koggel oor hy Maya gebyt het! Niks gesien nie. Dokter seg ons moet maar wag en kyk hoe gaan dit more.

Dokter klim uit en ek en Maya ry huistoe. By huis klim sy baie soet uit die kar loop reguit - baie bedeesd en rustig - (sy is nooit sooo rustig nie! Vra net vir Davina) hek toe. Wag dat ek die hek vir haar oopmaak en sy loop reguit swembad toe, klim teen die trappe af in die water in en gaan spoel haar af waar die ou met sy vuil hande aan haar gevat het. Verbeel jou dat ’n vreemde man sommer haar stert optel om na haar jis te kyk. En dit sommer daar in die straat!

Vanaand hang die stert nog steeds. Sy kan nie normaal gaan sit nie. Sy probeer, maar sodra die stert se punt aan die grond raak staan sy weer op. Sy gaan sit so skuins dat die stert eers op die grond kan gaan lê, voor sy so dwars sit. Sy lyk glad nie meer getraumatiseer nie., maar is beslis nie haar ou self nie. Ek het haar ’n allergix ingegee vir ingeval dit dalk ’n insekbyt was, wat ek nog steeds, ten spyte van al die mediese menings, dink die probleem is. Sy is nou baie vakerig en lê hier langs my op die grond en slaap. Sal maar sien hoe gaan dit verder in die week. As dit moet, sal ons (dis nou ek en sy) maar weer die gestoeiery moet deurgaan om haar by die hondedokter se spreekkamer in die vlei aan die onderpunt van die trappe te kry.

Groetnisse,
André.

Bo