André de Beer André de Beer

19 Maart 2005

Beste Telkom,

Dit is nou al langer as ’n maand dat ek na-ure nie na my E-pos kan gaan kyk nie. Ek kan ook glad nie op die Internet kom na omtrent ses in die aand nie. Sawens wanneer ek by die huis kom na werk, haal ek die telefoon van sy mikkie af en sit die handstuk langs die basis neer. Môre oggend wanneer ek werk toe gaan, sit ek hom weer terug op die mikkie.

Nou vir wat doen ek so ’n onsinnige ding. Dit is omdat ek nie daarvan hou om dwarsdeur die nag elke halfuur of wat, wakker gebel te word deur ’n telefoon wat twee of drie luie gee en dan stil is nie. Omdat ek daarvan hou dat as ek ’n telefoon het in die huis, dan kan ek hom gebruik wanneer ek wil, nie deur die tweede lyn wat inkom bo van die lyn afgelui te word voor ek nog die nommer klaar gebel het nie. Hou nie van die harde, reëlmatige klik geluid op die lyn wat verhoed dat ek ’n konneksie met die internet kan maak nie.

Elke maand betaal ek maar gedwee my rekening, soos die afgelope meer as dertig jaar al, al kan ek my telefoon net die helfte van die tyd gebruik.

Kort - kort rapporteer ek die probleem by Telkom soos ’n soet seuntjie moet! Telkom se technici stoei en roei en baklei met die lyne maar kry niks reg nie. Hulle werk snags tot laat en selfs oor naweke om die probleem uit te skakel - al meer as ’n maand lank. Maar als tevergeefs! Nog steeds gaan dit aan!

Nou vra ek - ek meen ek mag darem vir die magtige Telkom ok vra, mag ek nie - wat nou?

Moet ek maar aanvaar dat ek gaan nooit weer na-ure ’n telefoon of ’n skoonlyn hê nie? Moet ek my rekenaar se modem by die huis uithaal en vir iemand anders present gee, of wat? Ek meen, ek vra ma net. As ek die maand laat is om my rekening te betaal dan is julle blitsig om my telefoon af te sny - baie vinniger as wat julle is om my probleme reg te maak. Nou hoe nou?

Waarvoor moet ek die volle huurgeld ens. betaal as ek net ’n halwe diens kry? Gaan julle my krediet gee vir die tyd dat julle nie julle kant van die ooreenkoms nagekom het nie?

Soos ek verstaan, is die jongste insigte wat voor gehou word dat die “mense” van Kimberley moet kom om die probleem in die sentrale te kom regmaak. Nou wanneer gaan die "mense" wie hulle ookal mag wees, van Kimberley kom om die sakie te kom regmaak? Hoe lank moet ek nou nog wag? En hoe lank moet ek nog vir ’n halwe diens betaal?

As julle net weet hoe kwaad is my ma al vir my omdat ek nie haar E-pos briewe lees nie! Sy glo my glad nie meer dat die lyne nogs steeds so is dat ek nie my pos kan lees nie! Sy seg dis bog! Telkom sal g’n so lank dat ’n lyn stukkend is nie - ek lieg vir haar! Ek wil maar net nie haar briewe lees nie! Julle gaan maak dat my ma nie meer met my wil praat nie, en dan!?! Ek dink julle moet ’n brief vir my ma skryf en vir haar erken dat dit julle fout is dat ek nie meer haar briewe lees nie!

Ek is in afwagting, belangstellende,

die uwe,

André de Beer

Bo