André de Beer André de Beer

9 Maart 2021

Goeiemôre aan alger van julle,

Ek moet julle nou eers van my vroegoggend avontuur vertel.

Ter inleiding, so twee weke terug kom ek van die werk af huistoe met die motorfiets. Om by die erf in te kom moet ek so ’n sierlik S-draai maak verby die duiwelsvurk hek en na links draai om by die baksteenpaadjie op te ry, met my voete weerskante uit as stabiliseerders, ’n paar tree met die baie smal paadjie inry deur die veiligheidshek en by die braaivleisplek gaan stil hou.

Die middag staan Adrie en Zander se vriendin, Tanya buite by die karre en kyk hoe ek inry. Vol selfvertroue, ewe elegant swenk ek by die erf in op pad na die baksteenpaadjie. Die area waar die karre parkeer onder die afdak, is dit los gruis en sand en julle weet mos ’n tweewiel hou nie veel van los sand nie.

Net voor ek die baksteenpaadjie opry, trek ek die voorrem om so effe spoed te verminder vir die oprit. Die voorwiel gly in die los sand onder my uit. Ek probeer nog my linker stabiliseerder plant om vas te trap, maar watwou, die voorwiel gly net nog meer. Ek sit nog stewig in die saal en stadig val ek en die fiets om op sy linkersy. Ek lê op die grond en klou nog die handvatsels vas. Gelukkig het ek nog my helmet op en my kop bons van die grond af. Die helmet doen ’n baie goeie job en ek voel nie eers my harsingsskud of selfs bewe nie.

Adrie en Tanya storm op my af. Baie bekommerd dat die fiets op my geval het en my been of ten minste my arm gebreek het. Maar soos julle weet, steek die BMW se silinderkop uit na die kante toe en hy kom lê rustig op die silinderkop en niks van die fits val op my nie.

Verbouereerd en erg vernederd probeer ek opstaan. Die twee dames gryp elkeen ’n arm en help my orent. Eers word inspeksie gehou om al my beserings te identifiseer, maar daar is niks. Ek had my leerbaadjie en jeans aan en daar is nie eers ’n ou skaafwondjie nie.

Nou om die fiets weer opgetel te kry. Gelukkig sny die enjin dadelik uit wanneer die fiets omval (die handboek noem dit op bladsy 59) en daar lek geen brandstof by die tenk uit nie.

Ek gryp die fiets aan sy handvatsel en tel hom op, of altans ek probeer. Die ding weeg omtrent 300 kg. Adrie gryp vas en Tanya vat hom aan ’n stewige vatplek en tussen die drie van ons kry ons hom opgetel. Tanya is baie sterk en sy het meeste van die optelwerk gedoen.

Nou terug na vanoggend se petalje. Ek is vroeg by die huis weg met die fiets op pad werk toe, so net na 06h00.

Die inrit/oprit na die parkeerplek by die kantoor is ook los gruis en los sand. Die spasie onder die afdak is maar smal en ek moet ’n driepunt draai maak om die fiets weer te kan uitry wanneer nodig. Ek het die driepuntdraai al vervolmaak en dit hanteer ek al heel elegant. Omgedraai, moet ek hom agteruit stoot om dieper onder die afdak in te kom. Die BMW het ongelukkig nie - soos die Goldwing – ’n trurat nie en jy moet maar met die voete terugstoot. Dit is altyd vir my die moeilikste deel van die operasie. Aangesien ek nie golfskoene of rugbytoks het nie, moet my gewone skoene maar die ding doen.

Andre
My skoene gly op die los sand soos ek moet vastrap om hom agteruit te stoot.

Vanoggend met laat ek nou net mooi kom op die plek waar ek wil stilhou, gly my regtervoet en die fiets hel oor na regs. Ek trap en ek trap om regop te bly, maar my voet gly heel onder my uit en daar dons ek om, die keer na die regterkant. Moet darem elke kant ’n kans gee. Waps, lê ek en die fiets op onse regtersye. Heel rustig, want daar is niemand anders om die petalje te aanskou nie. Mooi getrou, sny die enjin uit en geen brandstof lek nie.

Andre
Ek kom orent, haal my helmet af, haal my sakke uit die “topbox” om dinge bietjie ligter te maak. Gryp die fiets vas en beur om hom te probeer optel. Hy roer nie. Voel of hy aan die grond vasgeplak is.

Gelukkig is Zander nog nie weg werk toe nie. Ek bel hom en op pad werk toe, kom help hy my eers om die fiets op te tel. Gelukkig nie eintlik skade aan die fiets nie. Net so skraapmerkie so hier en daar.

Andre
Andre
Ek't my getroue boukontrakteur geskakel en gevra hy moet ’n sementblad kom gooi in die oprit en onder die afdak. Hierdie rondgeglyery is sommer vir die voëls en moet nou ent kry!

My bode hier by die kantoor, Alfred – hy tel vir BEE as my een met ’n disability want sy een oog kyk dié kant toe en die ander ene anderkant toe en sy denkprosesse is soms maar duister en vaag. Hy is die ene wat een jaar, groot op ’n stuk papier geskryf het: “ALFRED VERJAAR VANDAG” en toe faks hy dit aan al die besighede in die dorp. Ewentwil, hy noem my BMW motorfiets ’n scootertjie. Ek moes hom gevra het om die scootertjie vir my te kom optel!

Bo