André de Beer André de Beer

September 2015

So ’n wyle gelede was ek een oggend weer by die hof. Voor die hof begin ek gaan eers na die aanklaer se kantoor om die moontlikheid van borg vir my kliënt met die aanklaer, Bongi, te gaan bespreek.

Bongi is nog besig om nuwe dossiere by ’n polisievrou, Anna de Bruyn, te ontvang en om hulle een vir een in Anna register af te teken. Ek gaan sit solank op ’n stoel langs die boekrak teen die muur om vir haar te wag. Daar is nog ’n paar ander mense ook in die kantoor. By tye deel tot drie aanklaers dieselfde kantoor. Lighartige geskerts tussen ’n ander polisieman, Speurdersersant Papier en die aanklaer van die Streekshof, Magwera, aan die gang. Papier praat Afrikaans en Magwera Engels. Hulle verstaan mekaar uitstekend.

Hulle koggel mekaar en so af en toe gooi ek ook ’n stuiwer in die armbeurs. Baie gemoedelike atmosfeer wat heers. Ek sit lekker agteroor met my hande agter my kop. My swart jas, dagboek en leêrs op my skoot.

Iets skuif – en toe lê ek lekker agteroor op die mat, met my hande agter my kop, my swart jas, dagboek en leêrs op my maag!

Daar heers doodse stilte in die kantoor en almal gaap my oopmond aan.

Neem my so ’n paar oomblikke om agter te kom, wat het nou eintlik verander in die prentjie. Die nuwe posisie is heel gemaklik, maar dit voel effe byderwets om so in die aanklaer se kantoor op my rug te lê en na die plafon te staar.

Papier kom staan hier oor my en vra bekommerd: "Meneer, is jy olraait?" voor ek nog ja kan sê, deel Magwera orders uit daar van agter sy lessenaar. Magwera is ’n ekstrovert groter as wat jou hart kan begeer. ’n Onkreukelbare selfvertroue. Luidrugtig met ’n harde stem en ’n opinie oor alles en niks! Hy weet altyd die beste en hy is altyd reg – in sy eie opinie. So, hy is gedurig deur besig om raad aan almal uit te deel, nie dat enigiemand rêrig luister nie. Dit skeel hom min.

Ek rol om en met Papier se hulp kom ek orênt. Tel my goete van die vloer af op. Papier tel die stoel op en onmiddellik val die ding weer agteroor en lê op sy rug. Dis met die dat ons oplet dat die stoel se poot het onder hom ingebuig.

Almal in die kantoor begin gelyk praat en daar vind ’n lewendige bespreking plaas oor vir hoeveel geld ek die Departemet van Justisie behoort te dagvaar as skadevergoeding. Dit is nou vir beserings, mediese uitgawes, pyn en lyding en natuurlik die aantasting van my eer en reputasie.

Die spul raak heel entoesiasties oor die onderwerp en redekwael oor dit ’n miljoen of twee moet wees. Magwera, probeer almal dood praat. Nie een luister na die ander nie.

Hulle is so bedrywig dat ek nie eers kans kry om verleë te wees oor ek op my rug beland het met my voetjies in die lug nie.

Op Magwera se aandrang, word ek ondersoek vir gebreekte bene, skedelbreuk ens. Groot teleurstelling dat ek niks makeer nie, dit beïnvloed beslis die omvang van my eis! Magwera is vas oortuig dat as ’n “elderly person” behoort ek darem ’n paar ordentlike, eiswaardige beserings op te gedoen het. Hy spreek luidkeels sy misnoë uit oor die feit dat ek nie ’n beter job daarvan gedoen het nie. Hy sê, ek was duidelik nie ’n sokkerspeler op my dag nie! Hyself sou die situasie darem baie anders hanteer het.

André se stoel Die ontwerper van die fancy stoel moet ’n bietjie slag op sy eie stoel gaan sit en kyk wat gebeur!

Groetnisse aan alger hier van die vloer af!!

Bo